Hierdie doopsous maak ons al vir jare en dit bly ’n treffer. Almal is altyd so verbaas om te hoor wat die bestanddele is en die bak doopsous is altyd leeg as die gastehuis toe gaan.
Indien jy ’n soeter doopsous verkies, kan jy altyd net bietjie meer kondensmelk in die mengsel inmeng.
Dit is heerlik saam met aartappelskyfies en ons het dit al saam met sout koekies ook geëet en dit is net so lekker.
Laventel is een van my gunsteling kruie. Die pers blommetjies is altyd vir my so mooi, die geur is fantasties en dit lok boonop nog bye en skoenlappers na die tuin! Daar is ’n talle verskeie kultivars van Laventel beskikbaar.
Engelse Laventel (Lavendula Agustifolia) wat tog nie inheems aan Engeland is nie, groei van nature in die kalkgrond van die Middelandse Seegebied.
Varingblaarlaventel (Lavandula multifida) is ’n variëteit wat glad nie teen uiterste koue bestand is nie.
Laventel word meestal in soet geregte gebruik soos tertsuiker, beskuitjies, skuimkoekies, roomys en ander nageregte. Laventel blomme word ook somtyds by kruieasyn of selfs by swart bessiekonfyt gevoeg.
Laventel hou insekte op ’n afstand en is ook baie voordelig in die linnekas om vismotte te verjaag.
Laventel het talle gebruike in die kombuis en net so baie medisinale gebruike.
Laventel is selfs in die tweede wêreldoorlog gebruik omdat dit antibakteriese en geneeskragtig eienskappe het.
’n Vriendin in nood vra my om na haar twee dogtertjies te kyk vir ’n paar uur. Ek stem toe in en wonder toe wat op aarde doen mens om ’n kind besig te hou? Aangesien ek nie kinders het nie, was dit nogal ’n groot vraag, wat my goeie vriendin, Pinterest, toe in ’n oogwink oplos: Speel klei!
Ek onthou as kind het my Ma altyd vir ons ook speel klei gemaak, maar ek onthou dat sy dit op die stoof gekook het. Ek het op ’n geen kook speel klei resep afgekom wat glad nie te moeilik is om te maak nie en die bestanddele is goed wat gewoonlik in die huis is. Ek was dood verbaas oor al die verskillende resepte en teksture van speel klei – van gewone gekleurde speel tot klei, speel klei met geursels, kruie blomme tot speel klei wat byna soos klip lyk met gemaalde, gebruikte koffiebone in die deeg – te oulik.
Ek besluit toe aangesien ek nou ’n groentjie is in die maak van speel klei sal ek dit nou nie te ingewikkeld maak nie en net gewone gekleurde speel klei maak.
Die meisies was heel beïndruk met my en die klei wat ek gemaak het, elkeen het ’n kleur gekies – pienk en geel! Dit het hulle byna 2 ure lank vermaak. Die twee is heel tevrede met hulle speel klei huis toe!
Tiemie is sekerlik een van die gewildste kruie vrylik beskikbaar deesdae. Met sy wonderlike smaak is dit nie moeilik om agter te kom hoekom nie. Behalwe vir die diepte wat dit aan vis, skaap, hoender, eier of aartappel geregte verleen, is dit ook ‘n MOET vir die kruie apteek.
Gedurende Desember en Januarie is dit een van die besigste tye in my kombuis. Dit is die tyd wat alle soort vrugte soos perskes, pruime, appelkose ensovoorts, mooi ryp is. Dit is ’n gewerskaf om die vrugte skoon, geskil en opgesny te kry, gereed vir die potte. Wat dit ook lekker maak is dat manlief gewoonlik ook hand bysit want dit is maar ’n groot werk. Die rakke van die spens moet vol vir die jaar wat voorlê. Daar is niks so lekker soos vars room op ingemaakte perskes voor die kaggel in die winter nie of konfyt op vars gebakte brood en blatjang saam met vleisbraai.
Hierdie jaar het ek besluit om mango blatjang te maak.
In ons omgewing het ons ’n groot groente en vrugtewinkel waar ek ’n paar boksies mango’s gekoop het.
Dit was nogal ’n nuwe uitdaging want ek het nog nooit met mango’s gewerk nie en was nie seker wat om te verwag nie. Dit was toe nie so erg soos wat ek gedink het nie, al ding is dat hierdie blatjang sal in ’n oogwink aanbrand, so, as jy besluit om dit te maak, weet net een ding, jy gaan die pot oppas en roer deurentyd.
Soos ek gesê het gelukkig vir my, staan my man se hande vir niks verkeerd nie en hy het met alles gehelp, om nie eens te praat van my tweede geluk, dat sy Tante kom kuier het en ook gehelp het nie! Dit was skone pret en plesier om die vrugte te bewerk.
Ons het ’n versoek van een van ons lesers ontvang:
Wendy Mann van Krugersdorp is op soek na ’n outydse bobotie resep, wat appelkooskonfyt in het.
Indien jy dalk oor so ’n resep beskik, stuur dit asseblief in na info@boervrou.co.za sodat ons dit op die webblad kan plaas.
Dit het oor die laaste jare redelik gereeld gebeur dat ek sien ek het geen enkele korreltjie bruismeel in die huis nie en dan het ek reeds die resep se ander bestanddele begin meng.
Hier is ’n paar wenke vir plaasvervangers:
Bestanddeel
Plaasvervanger
Bakpoeier
Meng 2ml kremetart en 1ml koeksoda vir elke 5ml bakpoeier wat benodig word.
Botter of Margarien
Gebruik 220ml kookolie vir elke 230g botter of margarien wat benodig word.
Bruismeel
Sif 525g (4 x 250ml, ongesif afgemeet) koekmeelblom, 30ml kremetart en 15ml koeksoda 4 keer saam.
Melk
Meng 250ml koue water met 60ml melkpoeier vir elke 250ml melk wat benodig word.
Mielieblom
Gebruik as bindmiddel 30ml koekmeelblom in die plek van 15ml mielieblom.
Suiker
Heuning of gouestroop kan in plaas van suiker in gebak gebruik word. Gebruik driekwart van die gegewe hoeveelheid suiker.
Suurdeeg
1 Koekie (20g) saamgeperste of vars suurdeeg is gelyk aan een pakkie (10g) of 12,5ml aktiewe droë of korrel suurdeeg.
Ek was gelukkig genoeg om verlede week ’n klein bergie tamaties te kon oes uit die tuin. En aangesien hierdie tamaties gegroei is van saad wat glad nie geneties gemanipuleerd is nie, was ek verplig om iets konstruktief te doen met die oorvloed tamaties! Die finale keuse was toe tamatiepuree. Die tamatiepuree was ’n reuse sukses maar as ek moet eerlik wees; dit is ’n arbeidsintensiewe en tydsame proses vir ’n klein hoeveelheid puree.
Tamaties
Jy kan die volgende stappe volg om jou eie tamatiepuree te maak: