Posted on 4 Comments

Vloeibare Wasgoed Seep

Dagsê Lesers,

Verlede jaar het ons ’n artikel geplaas oor hoe om jou eie wasgoed seep te maak. Ons het wel agtergekom dat die seep nie altyd heeltemal oplos in die was nie en daarom het ons besluit om ’n vloeibare wasgoed seep te maak. Die seep is dan opgelos in die vloeibare seep en so kry jy al die krag van die seep in die was, waar jy dit nodig het.
Ek hou steeds nie van boraks nie en plaas weer die skakel vir julle oor boraks. Lees dit gerus en vorm jou eie opinie oor boraks.

Na ’n hele paar liter seep opgebruik is in my huis, het ek besluit dat dit is tyd dat ek resep met julle deel!

VLOEIBARE WASGOEDSEEP x

 

Hier is die resep:
1 koekie Sunlight seep (200g) gerasper
Of
Indien jy dalk soos ek oorskiet stukkies sunlight seep gebruik wat al heeltemal droog is gebruik:
140 g gedroogde Sunlight seep
10L water
⅔ koppie Koeksoda
⅔ koppie Sout
⅔ koppie Wassoda

Sit 1 liter water in ’n pot en voeg die seep daarby.
Verhit die water baie stadig en roer tot al die seep opgelos is.

Neem ’n groot emmer en sit 6 liter kraanwater en 3 liter kookwater daarin. Voeg die seepwater daarby en roer goed. Voeg die res van die bestanddele by en roer baie goed tot alles opgelos is.
Laat heeltemal afkoel.

Roer weer goed voordat jy dit in jou seep houers gooi.

Gebruik 125ml (halwe koppie) per bondel wasgoed en so halfkoppie asyn mengsel (helfte water en helfte asyn) as versag middel.
Laat weet my gerus as jy ook jou eie wasgoed seep maak en watter produkte jy gebruik en hoekom, dit is altyd interessant om ander mense se opinies te lees en so deel ons almal ons kennis met mekaar!

Lekker was!

Mariette

 

 

 

Baie belangrik:
Wanneer jy jou eie reinigingsmiddels maak, merk altyd al die bottels noukeurig.
Onthou om gedurende die maak proses van jou reinigingsmiddels dit buite bereik van kinders te hou.

4 thoughts on “Vloeibare Wasgoed Seep

  1. Mariette, ek het ook my eie wasgoedseep gemaak deur 1 koppie boerseep te rasper en smelt in 1 L kookwater. Dan het ek ook 1 koppie wassoda opgelos in 1 L water en 1 koppie boraks opgelos in 1 L water. Ek het die drie gemeng en nog 7 liter water bygegooi. Dit was nie so effektief nie en nou sit ek met ‘n verstopte drein!! Is die boerseep die sondebok? Ek bly op ‘n plaas en maak my eie seep. Kan jy dalk help?

    1. Goeiedag Carina,
      Dit is nogal ’n taai probleem. Ons is nou nie professionele seep makers nie, maar kom ons veronderstel dit is die boerseep wat die sondebok is, mag dit dalk wees omdat die reaksie nie volledig plaasgevind het tydens die seep maak proses nie.
      Twee redes hiervoor is:
      1. Dat die verhouding seepsoda tot vet nie reg was nie en dat daar dalk te min seepsoda in die mengsel was en dat daar dan nog vry vet is, of
      2. Dat die seep nie genoeg geroer is nie en dat die reaksie nie tyd gehad het om klaar te maak nie.
      Indien dit een van die twee probleme is en jy was jou wasgoed slegs met koue water is dit nie heeltemal onmoontlik dat die oorskot vet wat in die seep teenwoordig is met tyd kan oppak in die drein nie.

      Ons het ook bietjie navorsing gedoen en daar is natuurlik nog ander faktore wat ’n drein kan verstop:
      • Hand skoonmaakmiddels met skuurmiddel in
      • Baie vetterige skottelgoedwater
      • Gemaalde koffie bone
      • Kos stukkies
      • Deeg
      • Boomwortels wat deur die pype groei
      • Selfs die grade van jou drein pype kan ’n invloed hê en as die grade nie reg is nie, sal dit drein makliker verstop

      Watse produk het jy gebruik om die drein te ontstop?
      Kon jy sien wat presies saamgepak het?

      Ons hoor baie graag weer van jou!
      Groete,
      Mariette & Leanie

  2. Wel ek het nou gister my ” batch” gemaak volgens jou reseppie. Ek sien dit was in 2016 bekendgestel.
    Wel sal die naweek dit uit probeer.
    Ek het n 18kg “twin tub”.
    Sal 1 koppie vol probeer met die seun se oorpakke en jeans.
    Sal graag wil weet of jy enige veranderings aangebring het sedert 2016.
    Groete

    1. Goeie dag Sannie,
      Ek het nie enige veranderings aan die resep aangebring nie.
      Laat weet gerus vir ons hoe dit vir jou gewerk het en hoeveel daarvan die regte hoeveelheid was.
      Groete,
      Mariette.

Leave a Reply