Skottelgoedwasser Seep

Ek is so opgewonde om my skottelgoedwasser seep resep met julle te deel.

Na maande van meng en toets en vele skottelgoedwassers vol skottelgoed wat steeds vuil was, het ek uiteindelik die resep wat werk vir my en hopelik ook vir julle!

Weereens het my seep resep geen boraks in nie. Klik gerus op die skakel, lees die artikel en vorm jou eie opinie oor boraks.

Die een ander ding wat ek kan sê oor die resep wat vir jou baie frustrasie gaan spaar is: DROOG JOU SOUT IN DIE OOND. Dit klink nou snaaks maar dit is ’n ding wat ek oor en oor ervaar het, net sodra die mengsel klaar gemeng is word dit so hard soos ’n klip! Sout het die manier om vog te trek (dit is hoekom daar ryskorrels in restaurante se soutpotjies is!) en al droog jy dit as jy dit koop – dit trek maar net weer vog. So die heel beste oplossing is om dit te droog voordat jy jou mengsel maak. Teen die tyd wat die sout weer begin vog trek behoort jou skottelgoedwasser seep op wees. Ek sprei die sout op ’n bakplaat en droog dit vir om en by 10 minute by 100 grade met die oond deur op ’n skrefie oop soos wat jy beskuit sal droog. Laat dit heeltemal afkoel (in die oond) en meng jou skottelgoedwasser seep.

Een van die bestanddele van die seep is sitroensuur wat nogal duur kan wees as mens dit in ’n gewone supermark koop. Ons het ’n winkel hier wat spesialiseer in partytjie benodighede en lekkergoed. Hulle verkoop produkte soos koeksoda, versiersuiker, sitroensuur en vele meer op grootmaat, wat dan baie goedkoper uitwerk. As jy so ’n winkel in die dorp het waar jy bly, gaan loer gerus daar of jy van die produkte teen ’n beter prys kan aankoop.

Skottelgoedwasser seep x

 

Hier is die resep:

1 koppie Wassoda
1 koppie Sout (wat so pas gedroog is in die oond)
1 Koppie Koeksoda
1 Koppie Sitroensuur

Meng al die bestanddele baie goed.

Moet nie ’n staal maat lepel in jou seep stoor nie aangesien die sout dit sal beskadig.
Gebruik 15ml van die poeier mengsel per was.
As afspoel hulpmiddel gebruik een deel water op een deel wit asyn.

Ek het ook ervaar dat die winkel afspoel hulpmiddels en hierdie poeier seep werk nie saam nie. Daar bly ’n lagie agter op die skottelgoed en sal aanbeveel dat jy eerder die asyn mengsel as ’n afspoel hulpmiddel gebruik.

Ek sit nie meer skottelgoedwasser sout in my skottelgoedwasser nie aangesien ek reeds sout in die seep het, wat die water versag en die seep meer effektief maak.

Ek hoop dat die resep jou sal inspireer om jou eie skottelgoedwasser seep te maak.
Laat weet my gerus as jy ook jou eie skottelgoedwasser seep maak en watter produkte jy gebruik en hoekom, dit is altyd interessant om ander mense se opinies te lees en so deel ons almal ons kennis met mekaar!

Baie belangrik:
Wanneer jy jou eie reinigingsmiddels maak, merk altyd al die bottels noukeurig.
Onthou om gedurende die maak proses van jou reinigingsmiddels dit buite bereik van kinders te hou.