Posted on Leave a comment

Melktert

Dagsê Lesers,

Die heel eerste keer wat ek ‘n melktert gebak het, het ek hierdie resep gekry en ek gebruik nog steeds dieselfde resep. Ons is baie lief vir melktert en al moet ek dit nou self sê is die melktert regtig vir my die lekkerste. Vandag deel ek hom met julle en ek hoop dat julle hom net so baie sal geniet soos ons.

MELKTERT
Melktert

Bestanddele vir kors:

125g Botter, kamertemperatuur
125ml Suiker
1 Eier, geklits
500ml Koekmeel
10ml bakpoeier
Knypie sout

Bestanddele vir vulsel:

1L + 125ml melk
30ml Botter
3 Eiers
200ml Suiker
40ml Koekmeel
40ml Mielieblom
Knypie sout
Kaneel na smaak

Metode vir kors:

Verhit die oond tot 200°C. Smeer twee tert borde met ’n volume van 1 liter elk.
Klits die botter en suiker saam. Voeg die eier by en klits goed. Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam. Meng die meelmengsel met die eiermengsel tot ’n deeg. Druk die deeg so dun as moontlik teen die wand en op die boom van die tert borde vas. Bak die korse 10 tot 12 minute totdat die rande begin verbruin. Berei intussen die vulsel.

Metode vir vulsel:

Skei twee van die eiers. Verhit 1 liter melk en die botter in ’n kastrol tot kookpunt. Klits die oorblywende 125ml melk, heel eier, twee eiergele, suiker, koekmeel, mielieblom en sout saam tot ’n pasta. Klits ’n bietjie van die kookmelk geleidelik hier by. Klits die mengsel nou by die kookmelk en roer goed, verkieslik met ’n draad klitser, om die vorming van klonte te voorkom. Verhit die mengsel tot kookpunt en roer gereeld totdat dit verdik. Klits die eierwitte totdat dit sagte punte vorm en vou dit in die warm melkpap in. Gooi die vulsel in die gaar tertkorse in en strooi kaneel oor. Laat afkoel tot die vulsel styf is.

Geniet!

Mariette

 

Leave a Reply