Dagsê Lesers,
Hierdie resep is nou voorwaar ’n wenner in ons huis. Ek maak dit gewoonlik saam met ontbyt in plek van aartappelskyfies. Ons het dit tot al saam met braaivleis geëet en dit bly heerlik!
Ons gebruik nie graag kookolie nie en daarom maak ek die koekies in uitgebraaide skaapvet gaar, wat ons self uitbraai.
Hier is die resep:
Bestanddele:
500ml (240g) geskilde, grof gerasperde aartappel
50ml grof gerasperde prei
100ml koekmeel
4ml fyn seesout
2 eiers
Vars gemaalde swart peper na smaak
Vet of kookolie om die koekies in te braai.
Metode:
Meng die gerasperde aartappel en prei goed. Voeg die meel, sout en peper by die aartappel mengsel en meng met ’n vurk tot goed gemeng. Voeg die eiers by en meng deeglik. Skep lepels vol in warm vet, druk plat en braai aan weerskante tot ligbruin en gaar.
Sit warm voor.
Geniet!
Wonderlik! Ek dit vanaand probeer en kinders agterna gevra vir nog! Maklik en so eenvoudig! Dankie vir die deel van resep.
Goeiedag Johan,
Baie bly dat julle dit geniet het en dit is n groot plesier!
Groete.