Posted on Leave a comment

Die droog van tamaties: Bykomende inligting.

Dagsê Lesers,

Eergister het ek dit vir die eerste maal gewaag om self tamaties te droog.
Inligting wat nie bespreek is in die vorige artikel nie, (klik gerus hier vir die vorige artikel) is die tamatie se skil. Ek verwyder altyd eers die skil van die tamaties voordat ek ’n tamatie en uie sous maak omdat ek nie daarvan in die sous hou nie.

‘n Volgende probleem wat ek ondervind het is dat die tamatie skywe het op die droër se rakkie vasgesit. Daarom het ek besluit om die bykomende inligting artikel te plaas.

Om die tamatie se skille effektief en maklik te verwyder is baie eenvoudig.
Plaas al jou tamaties in ’n glas of metaal bak en gooi kookwater bo-op sodat al die tamaties bedek is.

Tamaties in kookwater

Laat staan die tamaties vir sowat 5 minute. Interresant om op te let dat nie al die tamaties se skilletjies bars nie in hierdie proses nie.

Tamatie met gebarste skil

Neem nou ’n messie en sny die bopunt los waar die tamatie aan die plant vas was, dan sal jy vind die skil trek moeiteloos af.

Afgeskilde Tamaties

Ek het toe die tamaties in skywe gesny en in die droër geplaas, dit het ’n dag en ’n half geneem in my droër met die hitte bron om heeltemal droog te word. Nadat dit droog was, het ek gevind dat die skywe vassit aan die droër se rakkies.

Ek het toe weer tamaties gedroog en gevind dat as ek die tamatie skywe ’n paar maal omdraai op die rakkie gedurende die droog proses, sit dit nie so vas nie.

Gedroogde Tamaties

Die 1 kg tamaties weeg nou net 40g.

Ek hoop dat julle die alternatiewe inligting nuttig vind. Laat weet ons gerus as jy ook tamaties gedroog het en hoe jy dit ondervind het.

Lekker droog.

Mariette

 

 

 

Belangrik: Hierdie artikel is bedoel om die leser van inligting te verskaf en eie navorsing moet ook gedoen word.

 

Leave a Reply