Posted on Leave a comment

Dinge gedoen in Mei

Dagsê Lesers,

Mei maand het omtrent verbygevlieg! Ek kan byna nie glo dat die eerste week van Junie ook reeds verby is nie.

Ek het gedink ek deel sommer net met julle al die dinge wat ek gedoen het in Mei maand sowel as die items wat ek gemaak het.

Ek het ’n hele klomp smeerwortel plante verdeel en weer in plant sakkies geplant. Ek sal hulle wel in die lente uitplant as ek uiteindelik besluit het waar ek dit wil vestig. Die rede dat ek dit nou in plant sakkies geplant het, is omdat dit heeltemal doodryp bo die grond in die winter hier waar ons bly en nou kan ek dit beskerm vir die winter en as dit aanhou groei kan ek die blare solank begin oes en droog  – die idee is om te begin om ons eie hoender voer te meng (ek het nog nie ’n resep nie en doen nog eers navorsing )

Ek het ook die nuwe appelliefie plante uitgehaal en in plant sakkies geplant vir die winter sodat ek hulle kan beskerm teen die ryp.

Dan het ek ons paar vye boompies in groter sakkies oorgeplant – hulle is nog te klein om uitgeplant te word.

Ek het ook in die patat tuin gewerk, nuwe ranke gesny en in die huis gesit om te oorwinter en die patats uitgehaal, in ’n karton boks in die spens gebêre waarvan ons dan die hele winter kan eet – ek hou baie van patats wat saam met gemmerkoekies en botter  in die oond gebak is – hmmm. Om nie eens te praat van my blomkool en patat sop nie, ai maak ek myself nou honger…

Ek het ook al my potplante wat nie die koue hier kan hanteer nie in die huis ingedra ’n paar poinsettias, binnenshuise rosies, gekleurde miniatuur varkore & drie bromeliads. Dit is nogal ’n redelike werk om al die klomp plante behoorlik nat te hou, maar as mens iets wil hê dan moet jy bereid wees om die tyd daaraan te spandeer om dit mooi en lewendig te hou.

Nou ja mens kan ook nie net tuin maak nie en dan deel ek ook graag die paar gehekelde items wat ek gemaak het in Mei maand.

Hier is so baie projekte waaraan ek gelyk werk, dit raak soms moeilik om kop te hou, maar dit hou die lewe interessant.

Laat weet gerus vir ons watse projekte julle aanwerk in hierdie koue tyd, ons sien uit daarna om van julle te hoor!

Warm bly!

Leave a Reply