Dagsê Lesers,
In my poging om meer onafhanklik te raak, minder vullis te genereer en om koste te spaar het ek hierdie algemene reiniging sproei begin gebruik. Ek koop meeste bestanddele in grootmaat en het sodoende net die een sak om van ontslae te raak as die hope boksies en papiersakkies. Byvoorbeeld as ek een 25 kg sak koeksoda koop het ek een sak waarin dit verpak is teenoor die 50 boksies en papier sakkies wat ek sou hê as ek die 500g boksies in die supermark sou gekoop het. Om nie eens te praat van die koste wat ek gesny het nie. Die supermark vra 250% tot 300% meer vir koeksoda as die winkel waar ek dit in grootmaat aankoop.
Let daarop dat hierdie algemene reiniging sproei nie geskik is om graniet skoon te maak nie. Asyn kan die afwerking beskadig. Gebruik altyd eerder ’n reiniger wat nie asyn bevat nie.
Die resep:
400ml lou water
10 mℓ koeksoda
2.5 mℓ vloeibare skottelgoedseep
60 mℓ wit asyn
In ’n beker met ’n volume van 2 liter meng die water, skottelgoedseep en koeksoda tot al die koeksoda opgelos is. Gooi nou die asyn stadig by – hele mengsel sal skuim en bruis. Roer stadig en laat ’n rukkie staan tot die meeste skuim weg is. Giet nou in jou sproei bottel en gebruik deur dit op die oppervlak te spuit waar jy wil skoonmaak, los aan vir 5 minute om die koeksoda kans te gee om die onsuiwerhede los te maak en vee af.
Die meeste resepte wat ek gesien het gebruik net ‘n mengsel van skottelgoedseep en water sproei as algemene reiniger maar ek vind dat dit vullis moeiliker losmaak as hierdie algemene reiniging sproei.
Ek hoop dat die artikel jou sal inspireer om ook jou eie algemene reiniging sproei te maak en gebruik.
Lekker skoonmaak!