Kos kan met baie groot sukses gedroog word. Daar is baie video’s op die internet oor hoe om voedsel suksesvol te droog en ons het bietjie ondersoek gaan instel.
Omdat ons self een maal gedroogde groente gekoop het en dit so te sê oneetbaar was, was ons baie skepties. Een van ons lesers het vir ons ’n houertjie gedroogde boontjies gegee en nadat ons dit geproe het, was ons verbaas. As mens nie weet dat die bone voorheen gedroog was nie – sou jy dit beslis nie kon proe nie, nie soos die rou gedroogte groente wat ons gekoop het wat vol preserveer middels was nie.
Die groot geheim om jou eie groente te droog kom in by die gaarmaakproses. Dit is nie nodig dat alles gaar moet wees nie, jy kan byvoorbeeld tamaties net so rou droog – maar bone, wortels ensovoorts moet gaargemaak word.
Soos ek verstaan (ek het nog self net kruie gedroog!) moet die voedsel eers gaargemaak word – met sout soos wat jy normaalweg sal gaarmaak. Wanneer dit dan gaar is word dit in ’n droër gepak en gedroog.
Vir die berg van die gedroogde produkte word dit in ’n lugdigte houer verseël met ’n suurstof ontnemer – mens kry van die pakkies te koop (ek het dit in die video’s gesien) maar kan ook jou eie maak.
(Word later in die artikel verduidelik)
Indien die produk lank gestoor gaan word moet dit ook weg van direkte sonlig gehou word.
Indien die produk net gestoor word om in die volgende maand of so gebruik te word, kan dit in papiersakkies gestoor word. Ek is self glad nie ’n aanhanger van plastiek nie en probeer so vêr as moontlik daarvan wegbly en stoor al my gedroogde kruie in glasbottels.
Ek het twee droërs een werk met 12V en die ander een met 220V.
Die 12V een het nie op die oomblik ’n hittebron nie en moet maar in die son geplaas word om hitte te genereer om bietjie vinniger te droog. Die droër het Anton gebou en die boonste rakkie is gemaak van 2 stawe sodat mens darem ’n stukkie biltong ook kan droog!
Die 220V droër het ’n element onder in maar die hitte kan nie verstel word nie en dit is nogal ’n probleem met sekere goed – ek het suurlemoene probeer droog in hom en dit was ’n totale flop aangesien hy die suurlemoene gebrand het maar vir kruie werk hy perfek!
Hier is die inligting wat ons leser, Fanie van Wyk, vir ons gestuur het:
Hierdie droog van kos skakel die afhanklikheid van yskaste en vrieskaste uit.
Jy kan groot hoeveelhede kos gaar maak en droog. Jy kan omtrent enige iets droog en bêre.
Die volume van die kos verminder aansienlik, en dit weeg baie minder, ‘n groot hoeveelheid kos weeg baie min.
Die gedroogde kos hou baie lank, rys, aartappels ens sê hulle kant 30 jaar geberg word.
Gaar gedroogde vleis kan meer as ‘n jaar gebêre word. Geen vet nie, die vet word galserig.
Mens kan selfs die kos vooraf saam sit wat gedroog is, m.a.w. vleis, rys, aartappels, wortels en wat ook al om ‘n maaltyd te maak as jy nie omgee dat dit deurmekaar is nie.
My droër is ‘n plastiese houer, gekoop by Plastic World, dit is ‘n deurskynende “Hanging File Storage Case” en het R129 gekos.
Die rakkies is die droog rakkies waarop gebak op neergesit word om koud te word, hulle kos so R15 vir 2 by Checkers.
Elke rakkie is oorgetrek met skadunet wat die lug sal deurlaat maar nie die kos sal laat deurval nie. Ek het die skadunet in die rondte om vasgewerk aan die raampie anders krul die skadunet om en is geneig om rond te skuif.
Die waaiertjie is 24V sodat hy van 12V of 24V (direk van ‘n solar paneel) af kan werk. Die waaiertjie behoort 24/7 te loop sodat verdroging aanmekaar gebeur, so saans loop die waaier van die batterye af.

Dit neem sowat twee dae vir meeste kos om te droog, goed soos wortels neem lank, amper ‘n week gedroog. Vleis en groenbone en rys 2 dae, aartappels en patats so 3 dae. So nie alles neem ewe lank nie, die belangrikste is protein en natuurlik die energie hoeveelheid in die spesifieke kos.
‘n Hitte bron versnel die uitdroog aansienlik.
’n Suurstof ontnemer word in geseëlde biltong en ander bederfbare kos se sakke gesit, soos om te keer dat meel miet kry of dat die kos muf.
‘n Suurstof ontnemer is ‘n lap sakkie met staalwol en klam sout daarin, die sout laat die staalwol oksideer en die oksidasie proses gebruik die suurstof op.
Ek hou van die idee om gedroogde kosse klaar bymekaar te verpak. Dan kan mens net een pakkie sê maar – “Groente vir Kerrie” oopmaak en dan is alles bymekaar vir een ete. Dit klink vir my na tyd spaar.
Nou het ons baie gesê oor die droog van die groente maar ek is seker jy wonder nou oor hoe gebruik mens dit nou weer? Maklik!
Plaas die groente wat jy gaan gebruik in ’n houer en gooi skoon water daarop totdat alles bedek is, laat staan so vir om en by ’n uur, sodat die groente weer hidreer. Sodra dit groente weer uitgeswel is, kan jy dit in ’n pot op die stoof sit en opkook. Daar is ook genoem dat die tydperk heelwat versnel kan word deur die groente met kookwater te bedek dan neem dit so 10 minute.
Die gedroogde boontjies (wat ons gekry het) het ek in ’n bakkie gesit met water en dit vir ’n uur so laat staan. (Ek het nie gedink aan kookwater nie!) Daarna het ek dit netso met die oorblywende water in ’n pot op die stoof gesit en net opgekook. Ek het dit nie langer as twee minute gekook nie eintlik net om dit warm te maak en daarna het ons dit net so geëet. Dit was heerlik!
Laat weet ons gerus as jy enige van die metodes alreeds beproef het en wat die resultate was asook waar mens dalk dinge kan vergemaklik of selfs as jy aan nog ander alternatiewe metodes van kos bewaring kan dink. Ons hoor baie graag van julle!
Kan ek meer inligting kry seblief
Goeiedag Estelle,
Kan jy asseblief net spesifiseer presies watse inligting jy na verwys?
Baie dankie,
Mariette
Kan ek dalk so ‘n boek koop asb. Droog van kosse en ook die hekelpatrone.
Goeiedag Isabel,
Baie dankie vir jou belangstelling en dat jy die webwerf besoek het!
Ons het ongelukkig nie ‘n boek vir die droog van kosse nie. Ons het maar so met tyd die paar artikels geskryf van kosse wat ons gedroog het.
Watter hekel patrone stel jy in belang?
Groete
Lang staptogte. As ek boude vleis gaarmaak moet ek dit eers maal voordat ek dit in my oond uitdroog?
Goeie dag Magda.
Jy kan dit maal maar ek persoonlik sou nie die vleis maal nie maar eerder dit in ewe dik snytjies opsny en so droog. Ek vind dit moeiliker om baie klein goedjies te droog want dit kan nie op ‘n rakkie op hulle eie lê nie en sodra mens dit op ‘n soliede ding soos bv ‘n bakplaat sit sukkel mens meer om dit te droog omdat daar nie lugvloei is nie en is produkte geneig om te brand. Dit is hoekom ek ook eerder ‘n droeër verkies om kosse uit te droog want die lugvloei en rakkies is ontwerp om kosse effektief te droog en die kans om dit te brand is heelwat minder.
Laat weet ons gerus hoe die vleis uitgekom het.
Groete,
Mariette.
Hoe lank kan die vleis gebere word en hoe berg jy dit?
Goeiedag Spokie,
Volgens die inligting wat ons van ons Leser Fanie ontvang het, kan die vleis vir ‘n jaar gestoor word.
Dit word in ‘n houer verpak met ‘n suurstof ontnemer om al die suurstof uit die houer te onttrek.
Ek hoop dit help.
Groete.