Tiemie

Tiemie is sekerlik een van die gewildste kruie vrylik beskikbaar deesdae.  Met sy wonderlike smaak is dit nie moeilik om agter te kom hoekom nie.  Behalwe vir die diepte wat dit aan vis, skaap, hoender, eier of aartappel geregte verleen, is dit ook ‘n MOET vir die kruie apteek.

‘n Verskeidenheid van Tiemie is beskikbaar, onder andere Suurlemoen-tiemie (T.citriodorus), Kruip-tiemie (T.serpyllum) en die gewone tiemie (T.vulgaris).

Plant en Groei:

Tiemie is ‘n meerjarige plant wat goed gedreineerde grond en vol son benodig om te floreer.  Dit is droogte, hitte, ryp en sterk winde bestand. Amper onmoontlik om dit nie suksesvol te laat groei nie! Selfs in potte op ‘n sonnige stoep of vensterbank is tiemie heel gelukkig.

Tiemie kan voortgeplant word met saad, maar dit is die maklikste om stiggies te maak of saailinge te plant. ‘n Goeie dosis kompos aan die begin van die lente sal wondere verrig om nuwe groei te bevorder.

Dit word aanbeveel om eenmaal in drie jaar die bestaande tiemie plant op te deel deur dit met wortelstelsel en al uit die grond te haal. Gebruik dan ‘n graaf om die plant in kleiner dele op te breek sodat elke deel ‘n stuk van die wortelstelsel nog aan het.  Plant dan die kleiner plante weer in goed gevoede en gedreineerde grond.

Kruip Tiemie Kleiner
Kruip-Tiemie (T.Serpyllum)

Plantmaats:

Weens die feit dat tiemie ‘n sterk insek afweerder is, kan dit met ‘n geruste hart enige plek in die groente tuin geplant word, maar dit is veral voordelig vir die volgende plante:

  • Rose
  • Uie
  • Kool, Blomkool en Brokkoli
  • Aarbeie
  • Tamaties
  • Wingerde en
  • Vrugtebome
Suurlemoen Tiemie Kleiner
Suurlemoen-Tiemie (T.Citriodorus)

Voordele van Tiemie:

  • Insek weerder
  • Breek vetterige kosse af in die liggaam
  • Antibioties
  • Antibakteries
  • Bevorder sirkulasie
  • Versterk die immuunstelsel

Maniere om Tiemie te stoor:

  • Droog:
    • Die kruip-tiemie en gewone-tiemie kan gerus gedroog word aangesien dit nie smaak verloor in die drogings proses nie.  Die suurlemoen-tiemie verloor wel sy smaak.
    • Jy kan die blare droog en daarna fyn maak in n voedselverwerker.
    • Stoor in ‘n lugdigte houer vir latere gebruik in byvoorbeeld ‘n tee of vir kos maak
  • Vries:
    • Net so heel saam met water in ‘n ysbakkie
    • Sit die blare saam met ‘n bietjie olyf olie (of enige olie van jou keuse) in ‘n voedsel verwerker tot ‘n stywe pasta gevorm het. Hierdie pasta kan in klein hoeveelhede gevries word (ook in ysbakkies) en in kos gebruik word soos benodig.

Kruie-apteek:

  • ‘n Tiemie tee kan gemaak word deur 15-20g gedroogde blare of ‘n kwart koppie vars tiemie by ‘n koppie kook water te voeg en vir 5 tot 10 minute te laat trek. Haal dan die blare uit deur dit of deur ‘n teesiffie te giet, of die tee deur ‘n plunjer te suig.  Indien die smaak nie te wat wonders is nie, voeg nou ‘n teelepel heuning of suurlemoensap by.  Die tee sal help vir die volgende:
    • Seer keel
    • Hoes
    • Verkoue
    • Hooikoors
    • Asma
    • Swak spysvertering
    • Wingerdgriep
    • Slapeloosheid
    • Swak sirkulasie
    • Swak immuunstelsel
    • Mond-infeksies
  • ‘n Paar druppels essensiële olie in die bad water sal help vir die volgende;
    • Rugpyn
    • Spierpyn
    • Rumatiek
    • Atleet-voete
  • Berei ‘n gesig stoom behandeling voor deur ‘n koppie Suurlemoen-tiemie takkies in ‘n groot bak of skottel te sit.  Voeg nou 1.5Lt kookwater bo-oor die takkies.  Buig met jou kop bo-oor die bak/skottel en bedek jou kop en die skottel heeltemal met ‘n groot, skoon handdoek.  Stoom jou gesig vir 5 minute om te help met die voorkoming van aknee, olierige vel en vergrote porieë.

Waarskuwings:

  •  Moenie tiemie medisinaal gebruik tydens swangerskap of borsvoeding nie.

 

*Neem asseblief kennis dat nie ek of Mariette deskundiges is nie.  Hierdie inligting is bedoel om algemene inligting aan u te verskaf.  Moet asseblief nie uself probeer diagnoseer of behandel nie.  Raadpleeg u geneesheer voordat enige kruie raad gebruik word.  Ons aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige newe effekte nie*

Leave a Reply