Monument van die Groot Moord by Bloukransrivier

Monument by Bloukrans
By die monument ter gedagtenis van die Groot Moord in 1838

Hierdie monument het vir my ’n besondere waarde, aangesien van my voorsate hier vermoor is in 1838. Hulle was Johannes Gysbertus Roos Sr. (b10c2d1) en sy vrou Aletta Helena Vorster, Johannes Gysbertus Roos Jnr (b10c2d1e1) en sy vrou Elizabeth Johanna van den Berg saam met hulle twee kinders.

Net so kort stukkie geskiedenis vir die persone wat daarin belangstel.
Toe Piet Retief en sy geselskap met Dingaan gaan onderhandel het oor ’n stukkie grond in Natal het Dingaan ingestem om die grond aan hulle te gee. Die voorwaarde was dat Piet Retief al Dingaan se beeste wat Sekonyela van hom gesteel het, vir hom sal terugbring. Piet Retief en sy manne, saam met van Dingaan se handlangers het die beeste gaan haal en hulle teruggebring na Dingaan toe. Dingaan het toe die kontrak geteken en Retief het dit in sy bladsak gesit.

Daarna het Dingaan aan hulle laat sê (iemand het vir hulle getolk) dat hulle hulle wapens buite die stat moet los en inkom vir ’n fees, wat hulle toe doen.
Dingaan het vooraf die assegaaie in die grond laat versteek. Na die verrigting ’n ruk aan was, roep hy uit: “Bulalani abathakati!” ( maak dood die towenaars ). Die Zulu krygers het almal hulle assegaaie gegryp en al die Boere is in die stat vermoor. Let daarop dat Dingaan die voorwaarde gestel het van wat hy as betaling vir die grond wou gehad het en was tevrede met die betaling na die beeste terug gebring is, want hy het die koop kontrak geteken.

Die Boere wat gewag het op tyding van Piet Retief en sy manne, het uit die laer getrek en teen die Bloukrans rivier gaan uitkamp en gesê dat hulle het volle vertroue in Retief en sy manne dat hulle die grond gekry het.
Na die moord op Retief en sy manne, het die krygers van Dingaan die nag van 17 Februarie 1838, die Boere voor die voet, vermoor wat langs die rivier gebly het. Daar is 185 kinders, 56 vroue, 40 mans vermoor (senior burgers ingesluit). Daar is ook 250 van die mak volk wat saam met die Boere getrek het vermoor. Net ’n paar persone het dit oorleef. Dit staan vandag bekend as die Groot Moord by Bloukrans en Weenen.

Andries Pretorius het tot die Boere wat in die laer oor was se redding gekom. Al die trekdiere en perde wat buite die laer was, is deur hierdie krygers weggevoer na Dingaan stat toe. Daar is ’n strafkommando op die been gebring , om Dingaan te gaan straf vir die moord op die Boere wat langs die rivier gebly het. Dit het uitgeloop op die Slag van Bloedrivier wat plaasgevind het op die 16de Desember 1838. Na die slag is daar op die beendere afgekom van Retief en sy manne. Die bladsak van Retief is daar gekry en die traktaat wat Retief en Dingaan geteken het, is in die bladsak gekry. (Ek sal later vir julle meer van die Slag van Bloedrivier vertel!)

Klik gerus op die skakel vir meer inligting oor die Groot Moord.

Leave a Reply