Die beetslaai is altyd baie handig omdat dit in bottels gebêre word, dit kan ook maklik ingepak word vir ‘n vakansie. Dit is heerlik saam met vis, vleis en paste disse.
Bestanddele:
1 ½ liter gaar beet, gerasper
2 tot 3 groot uie
500ml bruin asyn
300g wit suiker
15ml kerriepoeier
5ml sout
50ml mielieblom
Metode:
Berei eers die bottels voor omdat die slaai baie vinnig gereed is om te bottel. Klik hier vir meer inligting oor die inmaak proses.
Was eers jou bottels goed en spoel deeglik af (moet nie afdroog). Pak al jou bottels net so nat onderstebo in die oond. Skakel nou die oond aan op 100 grade. Sit die deksels in ’n pot met water op die stoof en bring tot kookpunt terwyl jy die slaai kook en draai dan die plaat af, sodat die deksels net aanhou prut.
Begin nou met die slaai.
Skil die uie en kap dit fyn op.
Verhit die asyn en suiker stadig tot kookpunt. Roer dit aan die begin totdat al die suiker opgelos is. Voeg die beet en uie by en laat dit 10 minute lank prut. Roer die kerriepoeier en sout by en laat die mengsel 5 minute prut. Maak die mielieblom met bietjie water aan en roer dit by die beet mengsel. Laat dit goed deurkook.
Sodra dit gereed is, neem nou jou warm bottels uit die oond en skep jou slaai in die bottels met behulp van ’n tregter (sien artikel) sodat die rand van die bottels nie vol stroop word nie. Vul die bottel net tot so 3 cm van die borand af – neem nou ’n gewone smeer mes en druk al om die binnekant teen die rand van die bottel om al die lug borreltjies uit te kry. Vul nou op tot so 1 cm vanaf die borand en skroef die deksel op. Pak dit eenkant om af te koel maar pasop om die bottels te na aanmekaar te pak aangesien die middelste bottels sal aanhou kook en jou slaai kan dalk brand. Pak dit minstens 20 cm uitmekaar. Sodra die bottels afgekoel is, was af en plak ’n etiket op elke bottel met die naam van die inhoud sowel as die datum waarop dit gemaak is, sodat jy altyd die oudste eerste kan eet.
Geniet!