Gepubliseer op 4 Opmerkings

Die droog van patats

Dagsê Lesers,

Een van ons lesers het gevra of ons enige inligting het oor die droog van patats. Ek het daar en dan begin met die voorbereiding om patats te droog.

Omdat patats so maklik verkleur het ek heel eerste ’n bak met ’n volume van 1.5l geneem en vol water gemaak en 15ml suurlemoensap daarin gegooi. Daarna het ek die patats goed skoon gewas onder lopende water en begin om dit te skil. Met patats moet mens die heeltyd in suurlemoen water werk, met ander woorde jy moet byna elke keer wanneer jy aan hom skil of sny, die patat in die suurlemoensap water doop. Ek het met elke 5de haal van die groente skiller, die patat in die suurlemoen water gedoop, totdat die hele patat klaar afgeskil is.

PATATS IN SUURLEMOEN WATER x

 

In stede daarvan om die patat op ’n snybord te plaas en in skywe te sny, het ek dit so stuk vir stuk uit die suurlemoen water uitgehaal opgesny weer teruggeplaas in die suurlemoen water.

PATATS BESIG OM TE VERWERK IN SUURLEMOEN WATER x

 

So het dit gelyk na ek al die patats verwerk het.

PATATS OPGEKAP IN SUURLEMOEN WATER x

 

Daarna het ek die patats afgespoel met skoon water en in ’n pot geplaas. Voeg genoeg water by om al die patats te bedek. Ek het sout bygevoeg en die patats vir 5 minute gekook. (dit is belangrik om sout by te sit want dit help met preservering)

Nadat ek die patats gekook het, het ek die water afgegooi deur ’n vergiettes te gebruik.
Daarna het ek die patats op die rakkies van die droër gepak en gedroog. Dit het twee en ’n halwe dag geneem in my droër met ’n hittebron.

PATATS IN DROER x

 

Die 750g patats wat ek gedroog het weeg nou net 80g.

GEDROOGDE PATATS x

 

Ek hoop dat die inligting jou sal inspireer om jou eie patats te droog.
Onthou om altyd die gedroogde produkte lugdig te verseël met ’n suurstof ontnemer om dit vir ’n lang tydperk te stoor. Ek verkies om my produkte in glas te stoor en gebruik ’n glasbottel met ’n staal deksel en ’n suurstof ontnemer wat ek dan op ’n donker, koel plek bêre.

Lekker droog

Mariette

4 gedagtes oor “Die droog van patats

  1. Baie dankie! Gaan probeer. Wanneer gaar gemaak word, laat ek dit net in water week?
    Seënwense

    1. Goeiedag Ansie,

      Terwyl mens die patat skil hou jy die rou patat in die suurlemoensap water sodat dit nie so baie verkleur nie. Wanneer al die patats gesny is, word dit met skoon water afgespoel en dan in water met sout gekook. Wanneer die patat klaar gaargemaak is, is dit nie nodig om dit weer in water te plaas nie en kan direk in die droër gepak word om te droog.
      Laat weet gerus as daar nog onduidelikhede is, ons help graag waar ons kan.

      Groete,
      Mariette.

  2. Ek het jul so paar maande gelede gevra. Intussen het ek dit gedoen. Baie baie suksesvol.

    Terloops jy kry ‘n produk, Chipwhite, jy gooi so telepel vol in water en sit jou geskilde patats daarin. Dit bly spierwit!

    Ek sny dit skywe. Stoom dit in dubbel pot en dan plaas ek dit op rak om in die son te droog. Na so 3 lekker warm dae haal ek af en sit net vir 1 uur in my oond, droog soos beskuit en plaas in plastiek/glas houer. Ek het dit weer gebruik, gekook en almal kan nie glo dit is gedroogde patats nie! Het juis die afgelope week weer 20 kg Patats gedroog.

    1. Goeiedag Elize,

      Baie dankie vir jou terugvoering.
      Ek het al gehoor van Chip White maar dit nog nie self gebruik nie. Weet jy dalk waarvan dit gemaak word?

      Groete.

Maak 'n opvolg-bydrae