Dagsê Lesers!
Gedurende Desember en Januarie is dit een van die besigste tye in my kombuis. Dit is die tyd wat alle soort vrugte soos perskes, pruime, appelkose ensovoorts, mooi ryp is. Dit is ’n gewerskaf om die vrugte skoon, geskil en opgesny te kry, gereed vir die potte. Wat dit ook lekker maak is dat manlief gewoonlik ook hand bysit want dit is maar ’n groot werk. Die rakke van die spens moet vol vir die jaar wat voorlê. Daar is niks so lekker soos vars room op ingemaakte perskes voor die kaggel in die winter nie of konfyt op vars gebakte brood en blatjang saam met vleisbraai.
Hierdie jaar het ek besluit om mango blatjang te maak.
In ons omgewing het ons ’n groot groente en vrugtewinkel waar ek ’n paar boksies mango’s gekoop het.
Dit was nogal ’n nuwe uitdaging want ek het nog nooit met mango’s gewerk nie en was nie seker wat om te verwag nie. Dit was toe nie so erg soos wat ek gedink het nie, al ding is dat hierdie blatjang sal in ’n oogwink aanbrand, so, as jy besluit om dit te maak, weet net een ding, jy gaan die pot oppas en roer deurentyd.
Soos ek gesê het gelukkig vir my, staan my man se hande vir niks verkeerd nie en hy het met alles gehelp, om nie eens te praat van my tweede geluk, dat sy Tante kom kuier het en ook gehelp het nie! Dit was skone pret en plesier om die vrugte te bewerk.

Hier is die resep: Continue reading Mango Blatjang