Leanie Naude

Leanie

My naam is Leanie Naude, ek is tans 28 jaar oud. Ek werk op ‘n aanleg buite Rustenburg in Noord Wes.

Is gebore in Welkom in die Vrystaat, het my verstand gekry in Kakamas in die Noord Kaap, my Chemiese Ingenieurswese graad in Potchefstroom en my liefde (Pieter) hier in Rustenburg.

Ons bly in ‘n wat-voel-soos-‘n-klein huisie binne in die myn gemeenskap van die aanleg waarop ek werk. Pieter werk op ‘n Platinum aanleg nie ver van ons sin af nie.

Ons het een erg bederfde diere-kind: Venus die Weimaraner tefie.

Ek en Pieter is gedurig besig met projekte van die een of ander aard in en om die huis. Tans het ons ‘n klein skaalse hoender kuiken boerdery in die agterplaas. Ons plant ook groente vir ons eie en, as daar genoeg is, die bure se gebruik.

Dit is ons droom om eendag ‘n lappie grond van ons eie te besit en geheel en al onafhanklik te wees van die sisteem. U, die leser kan dus net dink wat die ander klein projekte alles behels….

Dinge wat ek graag met die leser wil deel en waaroor ek eindelose gesprekke wil voer is hekelwerk, breiwerk, naaldwerk, kosmaak, holisties lewe, jou eie kos produseer, alternatiewe bronne van energie, hoe om jou huis ‘n tuiste te maak, ensovoorts, ensovoorts.

Ek glo dat soos wat ek en Mariette groei en ons lesers saam met ons groei gaan bogenoemde lys net langer en langer word.

Die Boervrou van ouds se hande het vir niks verkeerd gestaan nie, en dit is waarna ons strewe:

“As die Boervrou van ouds kaalvoet oor die Drakensberge met ‘n ossewa en tien kinders kon trek, kan ek  (vul u eie idees in die spasie in) verseker regkry.”

Sien uit daarna om met u te gesels.

Groete

Leanie