Wie is ons?

Ons is bekommerde vroue van die Boervolk wat probeer om ’n verskil te maak. Nou sal u dink: Bekommerd? Waaroor? Ons is bekommerd omdat ons sien dat ons Volk se mense het geen passie meer vir Volksake of selfs die alledaagse bestaan nie.

Die blad wil ons ook graag opdra aan die Boervroue van ons Volk wat ’n aandeel gehad het in die ontwikkeling van die land.

  • Dit was die Boervrou wat haar man aangepor het en moed ingepraat het op die Trekpad tydens die Groot Trek.
  • Dit was die Boervrou wat na die moord by Bloukrans rivier in 1838 aan haar man gesê het: “Ons gaan nie terug Kaap toe nie, ons loop eerder kaalvoet oor die berge as om terug te gaan. Ons bly.”
  • Dit was die Boervrou wat met die Anglo-Boere Oorlog (voor die verskroeide aarde beleid) vir die mans kos verbou het wat op kommando was en as die mans tussen slagvelde huis toe gekom het vir voorrade was dit die Boervrou wat gesê het: ‘Jy was nou lank genoeg hier, vat jou voorraad en gaan veg vir ons Vryheid.’
  • Dit was die Boervrou wat gesê het: ‘Ja, vat die seuns (al was van hulle net 8 jaar oud) en laat hulle saam veg.’
  • Dit was die Boervrou wat na die oorlog by haar afgebrande huis gekom het, na die skuur gegaan het en op haar knieë gaan staan het en die koring korrels tussen die vloerplanke uitgekrap het en gaan plant het om weer kos vir haar gesin te voorsien.

Ons is trots om te sê dat ons afstam uit hierdie Boervolk se vroue van staal met inbors en deursettingsvermoë.

Ons streef om hierdie voorbeeld te volg en wil graag ons deel bring met die opbou van die Boervolk.
Die vrou is die moeder en opvoeder van die volgende geslag van leiers vir ons Volk en daarom is dit deel van haar plig om soveel as moontlik te wete te kom en te leer, sodat sy so min as moontlik aan haar kinders hoef te sê ‘ek weet nie’. Moet nooit dat ‘ek weet nie’ daar bly nie – se eerder ‘ek weet nie, maar kom ons gaan vind uit’ en maak dit ’n doel in die lewe om altyd die antwoorde na vrae te soek. Ons moet ook altyd ’n bietjie redeneer oor ’n saak en as iets nie sin maak nie, vrae vra en probeer om ons gesonde verstand te gebruik om probleme op te los.

Ons nooi ons mede vroue uit om hier op hierdie web werf saam met ons te kom werk en om mekaar te help om ons Volkstrots terug te kry en mekaar te motiveer.

Kom Boervroue: ons doen dit self – want ons kan!