Roosmaryn

Roosmaryn is sekerlik een van die mees gewildste kruie in die kombuis.  Die opsies is eindeloos vir hierdie veeldoelige plant.  Die blare kan vars of gedroog  by enige dis gevoeg word, van hoender tot skaap tot groente geregte.  Die takke waarvan die blare verwyder is, kan gebruik word in plaas van ’n sosatie stokkie om heerlike sosaties te maak vir die braai.   Of jy kan selfs die gedroogte takke tussen die kole gooi om al die gebraaide kos ’n unieke smaak te gee.

Roosmaryn Kleiner

Selfs al is roosmaryn so gesog in die kookkuns is een van grootste redes om ’n roosmaryn plant aan te skaf sekerlik vir sy medisinale gebruike;  Die Antieke Grieke en Romeine het geglo dat roosmaryn ’n heilige plant is.  Gedroogde roosmaryn blare en roosmaryn essensiële olies is in die vroeë Egiptiese grafkelders gevind.  Gedurende die groot plaag was roosmaryn gebruik as ’n ontsmettings middel.

Plant en Groei

Roosmaryn groei baie maklik in goed gedreineerde grond en in vol son.  Propagering van roosmaryn gebeur geredelik deur duim grootte stiggies in heuning te doop en dan in klam grond te sit.  Dit is baie belangrik om jou roosmaryn plant gereeld te snoei anders raak die takke baie dik en hard en die blare word dan ook minder.

Plantmaats

Aangesien roosmaryn meeste insekte skrik op die lyf jaag is dit ’n moet in die groente – en kruie tuin.  Dit floreer saam met, en bevorder groei van bone, wortels en kool.  Dit verjaag wortel vlieg en kool-wurms en sit slakke sommer vinnig ore aan.

Stiggies van kaal roosmaryn takkies kan  in die grond gedruk word reg langs die stingels van nuwe saailinge om miswurms weg te hou van die saailinge se sagte stingels af.

Voordele van Roosmaryn

Roosmaryn het anti-inflammatoriese eienskappe en word dus vir die volgende kwale aangewend:

  • Epilepsie
  • Artritis
  • Diabetes
  • Pyn

Dit help met sirkulasie en kan daarom aangewend word om die bloeddruk te stabiliseer, haargroei te stimuleer, energievlakke op te lig, depressie en angstigheid  te verminder en ’n positiewe uitkyk aan te moedig.  Dit verbeter ook geheue en konsentrasie.

Maniere om Roosmaryn te stoor

Alhoewel roosmaryn dwarsdeur die jaar geoes kan word en die vars takkies dan dadelik gebruik kan word (dit is ook beter om die vars roosmaryn te gebruik), kan dit ook op die volgende maniere gestoor word:

  • Droog:
    • Kan die blare droog en fynmaak in ‘n voedselverwerker of met die hand verfyn
    • Stoor in ‘n lugdigte, gemerkte houer vir latere gebruik.
  • Vries:
    • Bind die stiggies aan mekaar vas met ’n lang tou, doop dit vir 5 sekondes in ongesoute kokende water, dan vinnig in yswater. Kap dit fyn op en verpak dit dan in gemerkte vries sakkies, net genoeg vir een gebruik per sakkie.  Sit dit in die vrieskas en gebruik soos benodig.

Kruie-apteek

Maak ‘n roosmaryn tee deur ’n duim lengte roosmaryn takkie in ‘n koppie kook water te laat trek vir sowat 10 minute.  Haal dan die takkie uit en gooi heuning en/of suurlemoen by na smaak.

Hierdie tee kan vir die volgende kwale gedrink word:

  • Om Spysvertering te bevorder
  • Om depressie te verbeter
  • Verbeter geheue en konsentrasie
  • Verbeter sirkulasie
  • Verminder stress

Neem kennis dat hierdie tee in die geval van akute simptome, nie vir langer as 10 dae aaneenlopend, een koppie tee ’n dag, gebruik kan word nie.  Dit is beter om eerder elke tweede dag ’n koppie roosmaryn tee te drink vir langtermyn behandeling.

Hierdie tee kan gegorrel word om keel en mond infeksies te bestry en om die asem te verfris.

’n Infusie/tee kan by die bad gevoeg om vel-kondisies te verlig en om hare te laat blink en haar groei te bevorder as dit in die afspoel water gegooi word.  ’n Alteranatief is ook om roosmaryn essensiële olie by jou sjampoe of opknapper te voeg.

Nog ander gebruike van roosmaryn is om ’n treksel  te maak deur ’n emmer vol roosmaryn takke te maak, bedek die takke met kokende water en laat dan afkoel.  Haal dan die roosmaryn takke uit en roer seeppoeier by die roosmaryn treksel.  Hierdie mengsel kan dan in ’n spuit bottel gegooi word  en aan enige iets gespuit word om insekte af te weer van jou roosbome, groente tot matrasse en linne.  Jy kan selfs jou vloere daarmee was.

Waarskuwing

Moenie roosmaryn medisinaal gebruik indien jy ly aan kroniese hoë bloeddruk of kroniese hoofpyne nie.  Aangesien roosmaryn menstruasie bevorder mag dit ook nie medisinaal gebruik word tydens swangerskap en borsvoeding nie en ook nie indien menstruasie vloei baie swaar is nie.  Indien jy ly aan slapeloosheid moet roosmaryn vermy word saans.

*Neem asseblief kennis dat nie ek of Mariette deskundiges is nie.  Hierdie inligting is bedoel om algemene inligting aan u te verskaf.  Moet asseblief nie uself probeer diagnoseer of behandel nie.  Raadpleeg u geneesheer voordat enige kruie raat gebruik word.  Ons aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige newe effekte nie*

Leave a Reply

XHTML: You can use these tags: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>