Kattekruid

My katte is absoluut gek oor Kattekruid. Elke kat is ook maar anders en my een kat sal dit net in haar koekies eet, terwyl die ander twee die blare net so eet. Hier kan mens nie ‘n oop kattekruid buite los nie – daar sal nie eens ‘n worteltjie van hom oorbly nie. Dus staan daar ‘n paar potjies in die huis en die res is in ons tonneltjie geplant sodat dit beskerm is teen die koue en katte!
Kattekruid (Nepeta cataria) sal soos laventel, bye en skoenlappers na jou tuin toe lok. Asook natuurlik katte!

Plant en Groei:

Kattekruid is ‘n baie geharde meerjarige plant. Kattekruid hou van son of gedeeltelike skadu.
Jy kan kattekruid ook naby jou groente plant aangesien dit sekere kewers sal verjaag en plantluise hou ook nie daarvan nie. Dit kan ook met sukses in houers geplant word.

KATTEKRUID
Nepeta Cataria

Die mees algemene kattekruid (Nepeta Cataria) het ‘n groterige, vet, saagtand blaar, dra wit blomme en groei 30 – 70 cm hoog. Die ander variëteit Nepeta mussinii het kleiner blare en dra pers-blou of wit blommetjies. Hierdie variëteit word selde groter as 15 cm. Kattekruid kan twee keer per week diep nat gemaak word.
Kattekruid kan van saad sowel as stiggies gegroei word en ontwikkel ook wortels op die takkies rondom die moeder plant – net soos kruisement. Hierdie stukke wat wortels ontwikkel het, kan afgesny word en as nuwe plantjies geplant word.
As jou katte die plante te veel verniel, maak dit toe met maasdraad of plant dit in ‘n area waar jou katte nie toegang het nie.

Plantmaats:
• Appelliefies
• Blomkool
• Eiervrug
• Kool
• Rose
• Spinasie
• Tamaties

Voordele van Kattekruid:
• Insek weerder
• Koorswerend
• Pynstillend
• Kalmerend
• Verlig winderigheid
• Help met spysvertering
• Help vir hartkloppings

Maniere om Kattekruid te stoor:
• Droog:
o Kattekruid kan met sukses gedroog word.

Kruie-apteek:
• Maak tee deur een koppie kookwater op een koppie vars kattekruid blare te giet en laat dit trek vir 5 minute gebruik soos volg:
o Wend aan kopvel en hare om haargroei aan te moedig en kopvel irritasies te verlig.
o Sproei die tee oor jou kat se speelgoed, krap paal of beddegoed. Let daarop dat die tee nie gestoor kan word nie omdat dit nie ’n preserveermiddel bygevoeg het nie, maak altyd net ’n klein hoeveelheid vars aan.
o Gorrel met die tee om ’n seer keel te verlig.
o Sit bietjie van die tee in die afspoel water wanneer jy jou gesig was, dit sal help om olierigheid op te klaar.
• Maak ’n tee van twee liter kookwater en een koppie blare en blomme, laat dit vir ongeveer 15 minute trek. Doop lappe daarin in en plaas dit oor spatare, hou dit daar vir 30 minute. Die tipe behandeling word gewoonlik vir drie dae na mekaar toegepas.
• Gedroogde kattekruid kan in speelgoed vir jou katte gesit word.
• Gedroogde kattekruid kan ook onder die diere se beddegoed geplaas word om vlooie te verjaag.
• Maak ’n tee van 60ml kattekruid op een koppie kookwater en laat vir ’n paar minute trek, dit kan versoet word met heuning, die tee sal ’n kalmerende invloed hê om makliker aan die slaap te raak.
• Kattekruid is ook goed vir sakkies onder die oë. Doop watte pluisies in die tee (60ml kattekruid op een koppie kookwater) en plaas op die oë, dit streel die pofferigheid weg.
• Koekies kan gebak word met gedroogde kattekruid in. My katte is mal daaroor en wil glad nie meer die winkel koekies eet nie.

*Neem asseblief kennis dat nie ek of Leanie deskundiges is nie. Hierdie inligting is bedoel om algemene inligting aan u te verskaf. Moet asseblief nie uself probeer diagnoseer of behandel nie. Raadpleeg u geneesheer voordat enige kruie raad gebruik word. Ons aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige newe effekte nie*