Basielkruid

Basielkruid

As ‘n beginner in die kruie tuin afdeling, het ek besluit om te begin met iets wat volgens meeste kenners maklik is om te groei en te onderhou. Dit is ook my gunsteling krui: BASIELKRUID.

Daar is meer as 60 verskillende soorte basielkruid, sommiges eenjarig en ander is meerjarig. Die mees gewildstes is maar die eenjariges

Plant en Groei:

Basielkruid verkies warm weer en kan in vol son staan. Die belangrikste is dat dit gereeld moet water kry en die grond maklik moet dreineer.

Jy kan basielkruid groei vanaf sade, ek sal wel aanbeveel dat die saad in saad kissies geplant moet word, en die saailinge kan dan oorgeplant word.

Om die beste opbrengs uit jou basielkruid plant te kry, MOET die plant gereeld gesnoei word.

Sodra jou plant sowat 15cm hoog staan, is hy reg vir sy eerste snoei!

Dit klink dalk vreemd om so klein plant al te snoei, maar die snoei van Basielkruid is sekerlik die belangrikste ding wat jy kan doen; aangesien dit help dat die plant ‘n mooi bos word en langer hou. Dit vertraag ook die saad-vorming stadium; as jou plant eers begin saad vorm, is dit asof die blare bietjie bitter raak.

Hieronder is ‘n paar foto’s om te illustreer hoe om jou basielkruid te snoei:

DSCN00522
Snoei die plant deur net bokant die eerste vertakking af te knip.

 

Van hier af sal die twee vertakkings uitbrei en nog meer en meer nuwe vertakkings vorm:

basielkruid
Dit is hoe dieselfde plantjie 10 dae later lyk.

Dieselfde beginsel van die eerste snoei word nou die hele tyd herhaal op elke vertakking.  Hierdie afknipsels kan dan gebruik word.

Daar is sommige plante wat baie goeie maats is en voordelig vir mekaar is. Gaan kyk gerus na die volgende skakel om ‘n opsomming van watter plante die beste by watter plante pas. Ek noem dit sommer Plantmaats.

Plantmaats:

Basielkruid is ‘n goeie afweerder van plantluise, aspersie kewers, muskiete, tamatie horing wurms en witvlieë; die dat hulle voordelig is vir die volgende plante:

  • Tamaties (maak ook die tamatie nog lekkerder!)
  • Komkommer
  • Beet
  • Aspersies
  • Eiervrug
  • Vinkel
  • Wingerd
  • Appelkoos bome
  • Perske bome

Voordele van basielkruid:

  • Dit kan opkikkerend wees (anti depressant)
  • Antisepties
  • Help met vertering
  • Naarheid
  • Bevorder Konsentrasie
  • Anti-oksidant
  • Verjaag insekte en vlieë

Maniere om Basielkruid te stoor:

  • Vries:
    • Net so heel saam met water in ‘n ysbakkie
    • Sit die blare saam met ‘n bietjie olyf olie (of enige olie van jou keuse) in ‘n voedsel verwerker tot ‘n stywe pasta gevorm het. Hierdie pasta kan in klein hoeveelhede gevries word (ook in ysbakkies) en in kos gebruik word soos benodig.
  •  Droog:
    • Kan die blare droog en daarna in ‘n voedsel verwerker sit.
    • Stoor in ‘n lugdigte houer vir latere gebruik byvoorbeeld vir tee

Kruie-apteek:

  • Vars basielkruid blare kan bo-oor insek bytplekke gevryf word om die gejeuk en swelling stop te sit
  • Vars blare kan in kook water gesit word en die stoom ingeasem word om kopsere, naarheid, sinus, depressie en stress te verlig.
  • Maak basielkruid tee alleen of voeg heuning en suurlemoen by, om:
    • naarheid te verlig
    • die spysvertering na ‘n groot maaltyd aan te help
    • ontspanning
    • verkoues te help genees

Waarskuwings:

  • Basielkruid moet nie saam met Salie geplant word nie

*Neem asseblief kennis dat nie ek of Mariette deskundiges is nie.  Hierdie inligting is bedoel om algemene inligting aan u te verskaf.  Moet asseblief nie uself probeer diagnoseer of behandel nie.  Raadpleeg u geneesheer voordat enige kruie raat gebruik word.  Ons aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige newe effekte nie*