Wasgoedseep

 

Daar is faktore wat ’n rol speel in die bestanddele wat jy in jou waspoeier moet sit soos byvoorbeeld die hardheid van die water.
Ons het harde water en dit beteken dat daar baie kalsium en magnesium in die water teenwoordig is. Harde water maak seep minder effektief so as jy die water kan sagter maak gaan jou seep beter werk. As jy sagte water het dan het jy nie nodig om ’n ekstra bestanddeel in jou seep te sit nie en dit sal net so effektief wees!

Om die water te versag het jy sout nodig. Gewone growwe sout is piekfyn en moet asseblief nie die sout vervang met Epsom sout nie – dit is nie dieselfde ding nie inteendeel gaan dit die water nog harder maak want Epsom sout bevat baie magnesium en dit is juis deel van die probleem!

Nou ek is nie ’n chemikus nie maar na al die artikels wat ek gelees het, kon ek dit darem met goeie rede uitwerk. Die chemiese samestelling van sout is NaCl (Natriumchloried) en die van Epsom sout is MgSO4 (magnesium sulfaat) so dit is nie dieselfde ding nie.

Boraks is ’n produk wat ek geen liefde voor het nie – mense gebruik dit by hulle wasgoed en baie mense sit dit in hulle tuis gemaakte waspoeier maar ek het op hierdie artikel afgekom oor boraks en nadat ek dit gelees het, het ek besluit dat ek verseker steeds nie boraks gaan gebruik nie. Klik gerus op die skakel om die artikel te lees en vorm jou eie opinie oor boraks.
Ek het besluit om koeksoda te gebruik al is dit nie heeltemal so effektief soos boraks nie.

Waspoeier  - groen
Wasgoedseep gemaak met groen sunlight seep.

Om my meer natuurlike wasgoedseep te komplimenteer gebruik ek wit asyn. Bruin asyn en appel asyn kan die wasgoed vlek.
Asyn help om al die seep makliker uit te spoel en die grootste bonus vir my is dat die houertjie waarin mens die versagmiddel in my wasmasjien sit bly silwerskoon met die asyn! Ek het met die kommersieel vervaardigde versagmiddel twee maal per week die houertjie moes uitmekaarmaak en skrop met borsels en kookwater om die aanpaksel los te kry en as mens dit nie doen nie en een keer mis – dan pak die stof daarop aan (en mens probeer tog skoonmaak!)
Nou as die versagmiddel so klou aan die wasmasjien – dink net wat doen dit aan jou klere?
My wasmasjien se instruksies het aanbeveel dat die versagmiddel verdun moet word voordat dit in die houertjie geplaas word aangesien dit in die middel van die drom uitloop en meestal met die wasgoed in aanraking kom voordat die water ingetap het, so ek verdun die asyn om die helfte met water voordat ek dit gebruik en dit werk baie goed.

Waspoeier  - pienk
Wasgoedseep gemaak met pienk sunlight seep.

Uiteindelik vir die resep:

1 koppie gerasperde sunlight seep
1 koppie wassoda
1 koppie koeksoda
1 koppie growwe sout

Metode:
Rasper die sunlight seep en sit op ’n skinkbord in die son vir ’n paar uur om uit te droog.
Vir die volgende stap sit ek gewoonlik my stofmasker op want daar hang gewoonlik bietjie seep stof in die lug.
Maal die gerasperde seep in ’n meuletjie sodat sit so fyn as moontlik is en meng met die res van die bestanddele.

Gebruik 30ml (twee eetlepels) van die poeier seep per bondel wasgoed en so halfkoppie van die asyn mengsel (helfte water en helfte asyn) as versagmiddel.

Moet nie ’n metaal lepel in jou wasgoedseep stoor nie, want die sout sal die metaal vreet, gebruik liewer ’n plastiek lepel. Dit sal ook nie werk om jou wasgoedseep in ’n blik te stoor nie aangesien die sout die blik ook sal vreet, stoor dit liewer in ’n glas of plastiekhouer.

Jy kan essensiële olie by die asynmengsel voeg vir geur maar ek het gevind dat ek nie die geur op die droë wasgoed ruik nie en aangesien dit my nie pla nie (solank my wasgoed skoon is) – laat ek dit uit.

Heel laaste wil ek net sê dat hierdie artikel is my opinie van die produkte nadat ek baie artikels gelees het. Gaan doen self ook navorsing en vorm jou eie opinie oor die verskillende produkte voordat jy dit gebruik.

Laat weet my gerus as jy ook jou eie wasgoedseep maak en watter produkte jy gebruik en hoekom, dit is altyd interessant om ander mense se opinies te lees en so deel ons almal ons kennis met mekaar!

Lekker was!

Mariette
Baie belangrik:
Wanneer jy jou eie reinigingsmiddels maak, merk altyd al die bottels noukeurig.
Onthou om gedurende die maak proses van jou reinigingsmiddels dit buite

Leave a Reply

XHTML: You can use these tags: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>