Droë Koeksisters

Oor die algemeen eet ons nie graag koeksisters nie, omdat dit te soet en stroperig is na ons sin. Hierdie koeksisters is ’n treffer in ons huis omdat hulle nie so vreeslik stroop trek soos gewone koeksisters nie en daarom het ons dit die naam droë koeksisters gegee.

koeksister-gewone-reg

Hier is die resep:
Bestanddele:

Deeg:
500g bruismeel
2ml sout
1 groot eier
250ml water
10ml gesmelte botter
Kookolie vir diep braai

Stroop:
1000ml suiker
500ml water
15ml gouestroop
12.5ml gliserien
5ml kremetart
knypie sout
2 stukke pypkaneel

Metode:

Deeg:
Meng die bruismeel en sout saam.
Klits die eier en water saam. Maak ‘n holte in die meelmengsel en gooi die eiermengsel daarin. Voeg ook die gesmelte botter daarby en meng tot ’n sagte deeg. Knie deeg goed of knie met ’n menger. Bedek en laat vir 10 minute staan.
Kook intussen die stroop.

Stroop:
Plaas die suiker, water, gouestroop, gliserien, kremetart, sout en pypkaneel stukke in ’n groot kastrol en verhit dit tot kookpunt; roer dit een of twee keer om. Laat dit 7 tot 10 minute kook. Haal die stroop van die stoof af en laat effens afkoel.

Rol die deeg uit, sny in repe en vleg of draai. Of gebruik ‘n koeksister snyer as jy een het.
Braai die koeksisters in kookolie tot bruin. Skep hulle uit, dompel in die stroop en plaas op ’n draadrak. Verkoel die koeksisters voor opdiening.
Bewaar die wat oorbly in ’n toe houer in die yskas.