Mariette Potgieter


My naam is Mariette Potgieter (gebore Grobler) gebore op 13 Maart 1987 in Senekal in die Vrystaat.
Al het ek net die eerste 3 jaar van my lewe in die Vrystaat gebly voor my ouers Transvaal toe getrek het bly ek ‘n Vrystater in murg en been. Daar is geen plek in hierdie land waar ek meer tuis voel as in die Republiek van die Oranje Vrystaat nie.

Ek het grootgeword in die Transvaal en woon steeds hier naby Krugersdorp op ’n plaas saam my man, Anton Potgieter en ons drie diere kinders, twee honde,  Breker, Flaffi en ons een kat, Bienkie.
Was in die skool tot Graad 10 (standerd 8) en daar en dan vas besluit hierdie is tydmors vir my.
Ek het begin werk en baie dinge prakties geleer tot ek so bevoorreg was om te bedank en voltyds huisvrou te wees, waarna ek nog nie een oomblik kon stilstaan nie.

Nou ja alle huisvrouens sal met my saamstem dat dit ’n baie groot werk is en sodra jy nie meer kantoor toe gaan nie, begin jy wonder wanneer was daar ooit tyd om kantoor toe te gaan!

My man is ’n passer en draaier van beroep en werk vir homself, met die gevolg is ek ook kantoordame en so meer.

My Pa het my eerste naaimasjien gekoop vir my toe ek maar net 5 jaar oud was en doen nog al die jare naaldwerk. Ek is ook baie lief tuinmaak, hekel, brei, bak en kook soos dit ‘n regte Boervrou betaam. Ek het ook een groot probleem: ’n vinger wat alewig jeuk om die knoppie van ’n kamera te druk! Ek is mal oor foto’s neem en het reeds ’n hele paar duisend foto’s geneem partymaal tot my eie ergernis as ek alles moet deurgaan en uitsorteer.

As klein dogtertjie kon ek nog nooit ’n begraafplaas weerstaan nie, dit het my altyd aangetrek en ek het selfs op een plaas waar ons gebly het gereeld in die begraafplaas gaan speel en dan het ek altyd gewonder oor die mense wat daar begrawe lê.

In 2010 het ek begin wonder oor wie my voorouers was en watter spore hulle in hierdie land van ons getrap het en dit is waar alles begin het. Familie navorsing was eerste en so het my passie begin vir die geskiedenis van ons Volk.
Ek is ook baie trots om te sê dat drie van my groot oupagrootjies was krygsgevangenes in die Anglo-Boere Oorlog van 1899 – 1902, wat onderskeidelik Bermuda en Ceylon toe gestuur was.
My Oupa, aan moederskant, was een van die Duitse wesies wat in die land in gekom het in 1948 en hy en sy Suster is aangeneem deur ’n egpaar van Huyssteen wat woonagtig was in die Vrystaat.

Hier op die plaas genaamd Delarey, het ons ’n massiewe groot tuin, groentetuin en ’n aangeplante vrugteboord met perskebome, appelkoosbome, pruimbome, vyebome en ’n granaatboom. Elke Desembermaand is ’n dol tyd op die plaas, daar word konfyt gekook en ingelê en so meer, vir die jaar wat voorlê.
Ek wil graag met die lesers gesels oor naaldwerk, hekel, brei, borduur, koskook, huishou, tuinmaak, Boererate, geskiedenis, familie navorsing en selfs oor elkeen se troeteldiere.

Dit gaan vir my ’n groot voorreg wees om inligting en raad te deel met al ons lesers en ek sien baie uit daarna.

Groete
Mariette