Inmaak Proses nommer 1

Hierdie is die manier waarop ek al my produkte inlê, maar wil net ook in dieselfde asem sê dat my metode is nie wet en orde nie! Dit  word slegs geplaas as riglyn. Indien jy ’n ander metode gebruik, voel asseblief vry om vir ons te laat weet en ons kan dan moontlik jou metode ook publiseer vir ander lesers, sodat elke leser kan kies watter metode vir haar of hom die beste werk!

Inmaak gereedskap

Items wat ek gebruik om produkte mee in te lê:

Tang – om warm bottels uit oond te haal.
Vlekvrye staal skinkbord – om die warm bottel op neer te sit en vol te maak.
Spesiale tregter – sodat die rand van die bottel nie vol stroop word nie.
Tang – om warm deksels uit kookwater te haal.
Soplepel  – om die bottels mee vol te maak.
Mes – gewone smeer mes – ek gebruik dit net somtyds – afhangend van wat ek in lê.

Ek het al gesien dat mens wel ’n spesiale tregter kry om mee in te lê maar het nog nie een raak geloop nie, dit is gelukkig nie ’n probleem nie, koop ’n stel gewone tregters en sny die onderste punt af.

Bottel en Tregter

Daar is ook ’n tipe handskoen wat spesiaal gemaak is om warm bottels te hanteer maar ek hou nie daarvan om my hand in die warm oond tussen die warm bottels in te druk en moontlik te brand nie.
Ek het ’n lang braaitang gekoop wat ’n geboë bek het en rubber spons ingeplak, nou is dit nie nodig om my hand in die oond te druk nie!

Bottel met tang 1  Bottel en tang 2

 

Tang se bek  Tange

Ek gebruik ook ’n tangetjie met ’n nouer bek om die warm deksels uit die kokende water te haal.

Tang en deksel 1  Tang en deksel 2

Sodra jou produk naby aan klaar gekook is begin met jou bottel voorbereiding.

Seker punte om te onthou:

  • Moet nooit jou bottels afdroog nie, pak altyd bottels onderstebo in die
  • Pak altyd eers al die bottels in die oond voordat jy die oond aanskakel.
  • Die oond sal minstens 30 minute aan moet wees voordat bottels gereed sal wees.
  • Moet nie die oond afskakel gedurende die bottel proses nie.
  • Haal slegs een bottel op ’nslag uit anders gaan die bottels koud word.
  • Bottel altyd jou produk terwyl dit warm is, daarom word dit gewoonlik gebottel sodra dit klaar gekook is.
  • Deksels moet ook aanmekaar prut gedurende die bottel proses sodat deksels vuurwarm bly.
  • Vul die bottel op sodat die produk 1cm vanaf die borand van die bottel
  • Gebruik altyd vuurwarm deksels om op jou bottels te skroef.
  • Moet nooit warm bottels teen mekaar pak nie, die middelste bottels sal aanhou kook en jou produk sal brand in die bottel dus pak die bottels minstens 20cm uitmekaar.
  • As jou produk en bottels warm is, sal die bottel ’nvakuum trek wat ’n knal geluid kan veroorsaak terwyl dit stadig afkoel.
  • Was bottels sodra dit afgekoel het en etiketteer dit met die produk naam en datum.

Metode:

Die grootste geheim van inlê is higiëne!

Bottels moet altyd skoon en gesteriliseer wees. Was bottels in warm water moet nooit dit met ’n vadoek uitdroog nie, al het jy daardie vadoek nou net gewas, spoel goed af en pak onderstebo in oond. Die hitte van die oond sal die bottels droog bak en steriliseer. Pak al die bottels onderstebo in die oond (pak al die bottels eers in die oond voordat jy dit aanskakel) en skakel nou aan op 100grade. Dit sal minimum ’n halfuur lank neem.

Moet nie die bottels in ’n soliede pan sit nie, dit moet op die oondrak staan sodat die waterdruppels kan afdrup.
Plaas al die deksels in ’n pot, bedek met water en verhit tot kookpunt, draai die hitte af sodat deksels net aanhou prut…
Sodra die deksels prut en die bottels droog en warm is, kan die bottel proses begin.Onthou ook dat die rand van jou bottel altyd skoon gehou moet word gedurende die bottel proses.

Die rede daarvoor is die volgende: Indien daar van jou produk op die rand van die bottel kom, sal dit eerstens veroorsaak dat die deksel nie ordentlik gaan seël nie en jou produk kan sleg word omdat jou bottel dan nie ’n vakuum kan trek nie en tweedens gaan jy verskriklik sukkel om weer die bottel oop te maak want die skroef gedeelte van jou deksel gaan die taai stroop oral insmeer en dan is dit soos gom.

Sodra jou produk gereed is om te bottel, haal een bottel uit die oond (hou die oond aan totdat jy klaar is) en sit jou tregter op die bottel. Skink nou die produk deur die tregter binne-in die bottel in. As daar baie lug borreltjies teen die rand van die bottel is, kan jy dit verwyder deur ’n gewone smeer mes langs die kant van die bottel in te druk, reg rondom die bottel, maar werk versigtig sodat jy nie brand of van die produk op die rand van die bottel kry nie. Vul die bottel totdat die produk 1cm van die borand van die bottel is. Verwyder die tregter. Neem nou die ander tang en haal die deksels uit die kokende water (dit moet aanhou prut totdat jy klaar is) Skroef nou jou bottel toe en sit dit eenkant sodat die bottel kan afkoel. Onthou om nooit jou bottels teen mekaar te pak nie, dit moet minstens 20cm van mekaar afstaan. Indien die bottels teenmekaar staan sal die bottels in die middel aanhou kook en jou inhoud in jou bottel sal brand. Die bottel sal ’n vakuum trek, wat ’n knal geluid kan veroorsaak,  terwyl dit stadig afkoel.

Wanneer die bottels afgekoel het, pak hulle in die wasbak en was goed af en maak droog. Merk die inhoud deur ’n etiket op te plak met die inhoud en datum wat die produk vervaardig is, sodat jy altyd die oudste eerste gebruik. Bêre op ’n koel, donker plek vir beste resultate.

Leave a Reply

XHTML: You can use these tags: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>