Harlekyn Patroon

Hierdie artikel is slegs om met jul die patroon te deel.  Wat jy met die patroon maak hang natuurlik van jou af.  Om hierdie 1.2 by 1.2m kombersie te maak, het ek 10 bolletjies van elke kleur  van Serina se eko-vriendelike suiwer bamboes garing gebruik.  Die twee kleure waarop ek besluit het was die “Natural” en “Champagne”.

DSCN2143 (2)1

Gebruik die grootte hekelnaald soos voorgestel deur die garing vervaardiger vir die spesifieke garing waarop jy besluit.  In my geval was dit ’n 4mm hekelnaald.

DSCN2127 (2)1

Patroon:

Om die werk te begin sal ek voorstel dat jy ’n toetslappie hekel om te bepaal presies hoeveel steke jy nodig gaan hê om die regte grootte te verkry en of jy tevrede is met die spanning van die werk.

Om te begin maak die volgende aantal kettingsteke (ks):  Meervoude van 8 plus 1

Basis Ry: Maak [3 langbene (lb), 1 kettingsteek (ks), 3 langbene (lb)] in die 5de kettingsteek vanaf die naald.  Slaan 3 ks oor en maak 1 kortbeen (kb) in die volgende ks  *slaan oor 3ks, [3lb,1ks,3lb] in die volgende ks, slaan oor 3 ks, maak 1kb in die volgende ks,  herhaal vanaf * tot aan die einde van die kettingsteke.

1ste Ry:  Maak 3ks, slaan die eerste kb oor en maak ‘n 3 langbene groep  (lb-gp) oor die volgende 3 langbene. * maak 7ks, slaan oor 1ks en maak 6lb-gp oor die volgende 6lb (slaan die kb in die middel oor), herhaal vanaf *.  Eindig met 7ks, slaan 1ks oor, 3lb-gp oor die laaste 3lb, maak ’n lb in die 1ks.

2de Ry: 3ks, slaan eerste lb oor, 3lb in die bokant van die 3lb-gp, *1kb in die 1ks spasie twee rye ondertoe sodat  die 7ks toegemaak word,[3lb,1ks,3lb] in die bokant van die 6lb-gp en herhaal vanaf die*, eindig met ’n kb in die 1ks spasie twee rye ondertoe sodat die 7ks toegemaak word, 3lb in die bokant van die 3lb-gp, 1lb in die 3de van die 3ks.

3de Ry: 4ks, slaan die eerste lb oor, *6lb-gp oor die volgende 6lb (slaan die kb in die middel oor), 7ks, slaan 1ks oor, herhaal vananf *.  Eindig met 6lb-gp  (slaan die kb in die middel oor), 3ks, 1kb in die bokant van die 3ks.

4de Ry:  1ks, slaan die eerste kb en 3ks oor.*[3lb,1ks,3lb] aan die bokant van die 6lb-gp, 1kb in 1ks spasie twee rye ondertoe sodat die 7ks toegemaak word, herhaal vanaf*.  Eindig met [3lb,1ks,3lb] aan die bokant van die 6lb-gp, 1kb in die 1ste ks.

Herhaal Rye 1 tot 4 tot die verlangde lengte verkry is.

Rand:  Om die rand te maak het ek net twee rye kortbene reg rondom gemaak, maar hier kan jy jou eie kreatiewitiet inspan.

Kleur patroon:  Die moontlikhede is eindeloos en jou verbeelding kan hier seevier.  Ek het met elke tweede ry kleur verander.

 

Stuur asseblief foto’s van jul harlekyn steek projekte na info@boervrou.co.za.  Ons kan nie wag om dit te sien nie!

Leave a Reply

XHTML: You can use these tags: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>