Suurdeeg Potbrood

Suurdeeg Potbrood
Suurdeeg Potbrood

Bestanddele:

1 ½ koppies water
½ teelepel kitsgis
1 teelepel see sout
3 koppies koekmeel

Meng alles goed (die deeg word nie geknie nie) in ’n glas bak met ’n deksel en maak toe. Laat staan vir 24uur voor gebak word. 

Ek laat die deeg by kamertemperatuur tot die deeg verdubbel het in volume. Dan sit ek die bak in die yskas vir die res van die 24 uur.

Verhit jou ysterpot met deksel met ’n volume van min of meer 2 ℓ in die oond op 220°C vir ongeveer 30 minute. Moet niks in die pot sit nie ( Die pot word glad nie gesmeer of geolie nie - die warm pot skroei basies die deeg se kant en die brood sal net uitval sodra die brood gereed is )

Haal nou die warm pot uit die oond en haal die deksel af - wees versigtig en moet nie jouself brand nie! Sit die deeg in die pot direk uit die yskas uit. Ek gebruik 'n silikoon deeg skraper ( soos wat mens vir koek beslag gebruik ) en roer net die kante van die bak sodat die deeg los raak. Dan hou ek die bak skuins bokant die pot sodat die deeg daarin val - moet nie die deeg te veel roer nie, mens wil nie al die lugborreltjies uit die deeg laat uitkom nie. Die deeg sal weer bietjie rys in die pot. Sit die deksel terug en sit die pot terug in die oond.

Bak vir 20 minute teen 220°C met die deksel op die pot, haal nou die deksel af en bak vir nog 20 minute nogsteeds teen 220°C. Die brood sal hol klink as jy dit op die onderkant klop.

Laat die brood heeltemal afkoel voordat jy dit sny - die brood is baie vogtig en dit is genieg om kluitjies te maak en dan lyk dit asof die brood nie behoorlik gaar was nie. 

( Dit is baie belangrik dat die pot se deksel moet op wees vir die eers 20 minute van die bak proses. Dit help om die brood deeg vogtig te hou sodat die brood kan rys voordat die kors gevorm het )

For the english version of this recipe – click on “English” on the Language selection menu at the top right of the page

Maak 'n opvolg-bydrae