Droë Koeksisters

Oor die algemeen eet ons nie graag koeksisters nie, omdat dit te soet en stroperig is na ons sin. Hierdie koeksisters is ’n treffer in ons huis omdat hulle nie so vreeslik baie stroop trek soos gewone koeksisters nie en daarom het ons dit die naam droë koeksisters gegee.

Hier is die resep:

Bestanddele : Deeg

  • 500g Bruismeel
  • 2ml Sout
  • 1 Groot Eier
  • 250ml Water
  • 10ml Gesmelte Botter
  • Kook Olie Vir Diep Braai

Bestanddele: Stroop

  • 1000ml Suiker
  • 500ml Water
  • 15ml Goue Stroop
  • 12.5ml Gliserien
  • 5ml Kremetart
  • Knypie Sout
  • 2 Kaneel Stokkies

Metode:

Deeg:

Meng die bruismeel en sout saam.

Klits die eier en water saam. Maak ‘n holte in die meelmengsel en gooi die eiermengsel daarin. Voeg ook die gesmelte botter daarby en meng tot ’n sagte deeg. Knie deeg goed of knie met ’n menger. Bedek en laat vir 10 minute staan.

Kook intussen die stroop.

Stroop:

Plaas die suiker, water, gouestroop, gliserien, kremetart, sout en pypkaneel stukke in ’n groot kastrol en verhit dit tot kookpunt; roer dit een of twee keer om. Laat dit 7 tot 10 minute kook. Haal die stroop van die stoof af en laat effens afkoel.

Rol die deeg uit, sny in repe en vleg of draai. Of gebruik ‘n koeksister snyer as jy een het.

Braai die koeksisters in kookolie tot bruin. Skep hulle uit, dompel in die stroop en plaas op ’n draadrak.

Laat die koeksisters afkoel voor opdiening

Stoor in 'n lugdigte houer in die yskas

Koeksisters kan ook gevries word.

Maak 'n opvolg-bydrae