Lees jy etikette? Deel 1

Dagsê Lesers,

Net voor ek die artikel begin vra ek om verskoning vir al die engelse terms in die artikel maar het besluit om dit so te skryf aangesien dit is wat op die etikette staan.

Lees jy etikette? Die etikette aan die balle wol of gare wat jy aankoop om mee te hekel of brei!

Op die etikette van die wol of gare wat jy aankoop is BAIE belangrike informasie en tot onlangs het ek self ook nie die etikette aandagtig nagegaan VOOR ek die wol of gare aangekoop het nie.

Eerstens sal daar op die etiket staan waarvan die gare gemaak is soos byvoorbeeld 100% Akriel, 100% Bamboes, 100% Katoen, 70% Bamboes & 30% Katoen of selfs 90% Akriel en 10% Polyester.
Daar sal ook op die etikette aangedui word wat die dikte van die gare is byvoorbeeld: 4ply, double knit, chunky, Crochet No 5 ens. asook watter grootte hekelpen of breipenne jy sal benodig.

Een van die dinge wat al met my gebeur het, is dat ek twee artikels met dieselfde patroon wou maak maar albei se mate verskil en met die een het ek een hele ekstra 100g bal wol nodig gehad! Nie ’n lekker verassing om te kry 8 uur in die aand as jy beplan het om die artikel in die bed klaar te hekel nie!

Al die dinge kon my gespaar gewees het, as ek net my aandag op die etikette gefokus het en dit gelees het.

Double knit is nie noodwendig double knit nie! Ek het al artikels gemaak met verskeie soorte double knit en elkeen het ander mate gehad met dieselfde hoeveelheid steke en presies dieselfde grootte hekelpen! (eintlik fisies dieselfde hekelpen)
Dit is daarom baie belangrik om by een maak en soort gare te bly as jy byvoorbeeld ’n kombers met verskillende kleure hekel, net soos wat mens nie double knit en chunky saam gebruik nie. (Behalwe as die patroon so geskryf is!) Aangesien verskeie soorte se diktes tog verskil gaan jou kombers skeeftrek en wie wil nou tyd en geld spandeer aan iets wat skeeftrek en waarmee jy nie tevrede gaan wees nie?

Dan is daar nog die kwessie van die hoeveelheid meters per 100g bal. Ek het onlangs gesien dat dit met tot 67 meter kan verskil. Daarom het my een projek ’n hele ekstra bal gare nodig gehad om dieselfde hoeveelheid steke en rye te hekel.

Hier is ’n voorbeeld van die etikette van verskeie balle wol wat as Double Knit gemerk is.

Die eerste een het ongeveer 300 meter / 100g bal

Die tweede een het ongeveer 258 meters / 100g bal

Die derde een het ongeveer 233 meters / 100g bal

Ek weet uit ondervinding dat dit baie moeilik is om kalm te bly as mens by ’n wol winkel instap, want daar is so baie mooi wol en party is so sag mens wil dit net koop omdat dit so mooi is, maar onthou waarvoor jy gegaan het, let op na watter gare jou patroon voor geskryf is, kyk na die meters per 100 g. Dit is nie altyd moontlik om weer van die presiese gare te kry as jy te min gekoop het nie.

Ek hoop dat julle die artikel interessant vind en dadelik ’n paar balle gare se etikette gaan lees!

Lekker hekel of brei!

Leave a Reply

XHTML: You can use these tags: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>