Voegbry Reiniger

Goeie dag lesers

Vandag deel ek met jul ’n resep wat my baie gelukkig maak!  Sowat ’n jaar gelede het ons ’n lappie grond van ons eie gekoop.  Saam met dit kom toe ook ’n huis, wat glad nie sleg is nie, die heel grootste frustrasie wat ek wel met hierdie huis gehad het (tot en met vandag), was die teëls en meer spesifiek die voegbry oftewel “grout” tussen in.

Soos jul kan sien in die foto’s hieronder,  dit is ’n nagmerrie om dit ligtelik te stel.

VOOR

Nadat ons twee maande terug ingetrek het en uiteindelik klaar uitgepak het,  het ek besluit tot hiertoe en nie verder nie!  Navorsing het begin om die probleem so organies en goedkoop as moontlik op te los en daar was baie informasie beskikbaar.

Ek het toe eerstens begin met die volgende resep en metode:

Benodighede:SKOONMAAK MIDDELS

  • Halwe koppie Koeksoda
  • 20ml 12% sterkte Waterstofperoksied (“Hydrogen Peroxide”)
  • ’n ou tandeborsel
  • Plastiek Handskoene

Eerstens is dit belangrik om die handskoene aan te trek voordat jy met die Waterstofperoksied begin werk.  Maak ’n pasta deur die Koeksoda en Waterstofperoksied by mekaar te voeg en goed te meng.  Smeer die pasta aan die voegbry en los dit aan vir sowat 45minute.

GEDURENDE

Nadat die 45minute verby is, moet jy begin skrop met die ou tandeborsel!  Sodra die voegbry skoon is, was die vloer dan met baie water byderhand.

NA

Hierdie was my eindproduk, en om eerlik te wees,  ek was teleurgesteld;  Die voegbry tussen die teëls is nie wit nie,  dit is eerder beige.  Ek besef toe dat die waterstofperoksied (wat ’n bleikmiddel is)  nie noodwendig waarde toegevoeg het nie.

Onverwags kry ek toe ’n ander idee:  Wat van koeksoda en asyn, soos wat ’n opwasbak se drein skoon gemaak word?  Aangesien daar toe net een manier was om uit te vind het ek die volgende metode gevolg:

Benodighede:PRODUKTE

  • Koeksoda
  • Asyn
  • Spuit bottel
  • Ou tandeborsel

Begin deur die koeksoda in die gleufie van die voegbry te gooi. DIE PROSES

Gooi die asyn in die spuit bottel en spuit die asyn bo op die koeksoda.  Die mengsel sal begin borrel.  Spuit genoeg asyn op sodat al die koeksoda reageer.

DIE PROSES 2

Ek het die mengsel so 5 minute aan gelos nadat die borrels gestop het.  Daarna het die geskrop begin, maar dit het heelwat vinniger en makliker gegaan as die koeksoda-waterstofperoksied-mengsel se geskrop.  Was nou die vloer soos normaalweg.

DIE PROSES 3

Tot my verbasing het ek dieselfde resultate gekry as die vorige metode.  Aangesien hierdie metode baie vinniger en goedkoper is, sal ek verseker voortgaan met hom om al die vloere se voegbry te reinig!

Laat weet ons asseblief watter metode jy gebruik en waarom.

Groete

Leanie

Leave a Reply

XHTML: You can use these tags: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>