Die droog van brood

Dagsê Lesers,

Omdat ek byna elke dag brood bak is daar gereeld stukkies brood wat oorbly en dit is gewoonlik te min om ’n ete van te maak. Dan is dit ook lekkerder om vars gebakte brood  te eet as ou  brood. Die meel wat ek gebruik is van koring wat nie geneties gemanipuleer is nie en daarom probeer ek om nooit daarmee te mors nie, so het ek toe besluit om broodkrummels te maak.

Die brood het ek gedroog in my 12V droër.

Brood in droer

Ek het wel een fout gemaak en party van die snye bietjie dik gesny, as gevolg daarvan was al die brood nie gelyk droog nie.  Die dikste snye het amper drie dae geneem om te droog, waarvan die droër net twee dae gedurende die dag buite in die son gestaan het, want die ander dag was dit bewolk en het dit die aand wel gereën.
Indien ek die brood dunner snye gesny het, sou dit moontlik net twee dae geneem het en as die droër ’n ingeboude hittebron gehad het, sou dit moontlik ook vinniger geneem het.

Dit klink vreeslik dat dit twee tot drie dae geneem het om die brood te droog, ek kon dit in ’n paar uur in die oond gedroog het maar die hele verskil is dat dit byna niks gekos het om dit te droog nie aangesien ek net die battery weer moet herlaai teenoor die koste van die oond se element. Die ander bonus om die battery te gebruik is dat my droog proses nie deur beurtkrag beïnvloed  word nie. As ek nou ’n son paneeltjie vir die droër gehad het, dan was dit gratis om dit te droog in die dag en dan moes ek net in die aand die droër op die battery gekoppel

Gedroogde brood

Daarna het ek die brood in my meuletjie gemaal om dit so fyn as moontlik te kry.

Broodkrummels

Ek stoor die broodkrummels in ’n lugdigte houer en gebruik soos ek dit nodig kry.

Ek gebruik dit in viskoekies, maalvleis koekies en selfs bo-op gebakte geregte saam met botter en kaas om ’n korsie bo-op te maak.

Ek hoop dat die artikel jou ook inspireer om jou eie broodkrummels te maak en sien uit daarna om te hoor hoe jy die droog sowel as die gebruik van jou broodkrummels ervaar het!

Lekker droog!

Mariette

2 Responses to “Die droog van brood”

  1. Judy van den Berg

    Hallo! Ek is ook n boervrou van die Vrystaat en het afgekom op n foto van jou beskuit droeer. Ek het my eie beskuit begin bemark en kan nie voor bly nie! My probleem kom by die uitdroog van die beskuit. Dit vat baie krag en tyd. Waar kan ek n droeer soos joune op die foto in die hande kry? Groete Judy

    Reply
    • Goeiedag Judy,

      Die droër waarin die brood gedroog word, is ’n tuis gemaakte droër wat my man vir my gemaak het, met ’n klein staal boks, ’n 12V waaiertjie, plastiek sye vir die rakkies om in te skuif wat aan die sye van die boks vasgebout is en staal rakkies met ’n gaas oor om te keer dat produkte vassit.
      Ek het ook al beskuit in hom gedroog maar dit het my 3 dae geneem. Ek het nog nie ’n ander plan gekry om beskuit vinniger te droog nie, maar dit is wel meer ekonomies – want ek gebruik nou die battery wat gelaai word deur ’n sonpaneel, daarom kos die droog proses my niks. Indien die droër miskien ’n ingeboude 12V hittebron het, sal dit sekerlik vinniger gaan maar ek twyfel baie sterk of mens dit vinniger sal kan doen as die oond. Die ander ding wat ek wel opgelet het, is dat die gedroogde beskuit ’n ander smaak het, dit is asof die oond dit effens rooster, waar die droër dit nie doen nie. Daar is hoegenaamd niks fout daarmee nie, dit proe net anders.
      Indien jy moontlik ’n ander oplossing bekom om beskuit vinniger te droog, laat weet ons asseblief sodat ons die inligting met ander mense kan deel.

      Kyk gerus na die artikel van die verskillende droërs wat ons gebruik:
      http://boervrou.co.za/?page_id=730

      Groete.

      Reply

Leave a Reply

XHTML: You can use these tags: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>