Speelklei

Dagsê Lesers!

’n Vriendin in nood vra my om na haar twee dogtertjies te kyk vir ’n paar uur. Ek stem toe in en wonder toe wat op aarde doen mens om ’n kind besig te hou? Aangesien ek nie kinders het nie, was dit nogal ’n groot vraag, wat my goeie vriendin, Pinterest, toe in ’n oogwink oplos: Speel klei!

Ek onthou as kind het my Ma altyd vir ons ook speel klei gemaak, maar ek onthou dat sy dit op die stoof gekook het. Ek het op ’n geen kook speel klei resep afgekom wat glad nie te moeilik is om te maak nie en die bestanddele is goed wat gewoonlik in die huis is. Ek was dood verbaas oor al die verskillende resepte en teksture van speel klei – van gewone gekleurde speel tot klei, speel klei met geursels, kruie blomme tot speel klei wat byna soos klip lyk met gemaalde, gebruikte koffiebone in die deeg – te oulik.

Ek besluit toe aangesien ek nou ’n groentjie is in die maak van speel klei sal ek dit nou nie te ingewikkeld maak nie en net gewone gekleurde speel klei maak.
Die meisies was heel beïndruk met my en die klei wat ek gemaak het, elkeen het ’n kleur gekies – pienk en geel! Dit het hulle byna 2 ure lank vermaak. Die twee is heel tevrede met hulle speel klei huis toe!

Speel klei
Speelklei

Hier is die resep:

Bestanddele:
2 koppies gewone meel (ek het sommer koekmeel gebruik)
½ koppie fyn sout
2 eetlepels kremetart
2 eetlepels olie
1 en ½ koppies kookwater
Paar druppels kleursel (opsioneel)

Metode:

Neem ’n bak en meng die meel, sout, kremetart en olie met ’n vurk tot alles gemeng is, moet nie bekommer oor die “olie klonte” nie. Meng eenkant die kookwater en die kleursel, voeg nou by die meel en meng met ’n lepel tot ’n stywe deeg gevorm het. Laat staan vir ’n paar minute sodat dit kan afkoel.
Sodra die deeg afgekoel het, brei dit op ’n plat oppervlak tot jy ’n lekker gladde tekstuur het en die deeg nie meer taai is nie, indien dit steeds taai is sit so bietjie meel by.

Bêre in ’n lugdigte houer sodat die klei nie uitdroog nie.
Wat ek gevind het, is as die kinders klaar met die klei gespeel het voel dit of dit so-effe uitgedroog is buite om. Voeg net al die klei bymekaar en knie dit deur en dan voel dit weer so goed soos nuut.

Die resep se inligting sê dat dit vir tot 6 maande goed sal hou – soos ek gesê het, is ek maar ’n groentjie in die maak van speel klei. Laat weet ons gerus as julle die klei gemaak het, hoe julle dit gevind het en hoe lank dit gehou het.

Ons hoor graag van julle!

Klik gerus hier om die Dagbeplanner vriendelike weergawe af te laai.

Leave a Reply

XHTML: You can use these tags: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>