Mango Blatjang

Dagsê Lesers!

Gedurende Desember en Januarie is dit een van die besigste tye in my kombuis. Dit is die tyd wat alle soort vrugte soos perskes, pruime, appelkose ensovoorts, mooi ryp is. Dit is ’n gewerskaf om die vrugte skoon, geskil en opgesny te kry, gereed vir die potte. Wat dit ook lekker maak is dat manlief gewoonlik ook hand bysit want dit is maar ’n groot werk. Die rakke van die spens moet vol vir die jaar wat voorlê. Daar is niks so lekker soos vars room op ingemaakte perskes voor die kaggel in die winter nie of konfyt op vars gebakte brood en blatjang saam met vleisbraai.

Hierdie jaar het ek besluit om mango blatjang te maak.
In ons omgewing het ons ’n groot groente en vrugtewinkel waar ek ’n paar boksies mango’s gekoop het.
Dit was nogal ’n nuwe uitdaging want ek het nog nooit met mango’s gewerk nie en was nie seker wat om te verwag nie. Dit was toe nie so erg soos wat ek gedink het nie, al ding is dat hierdie blatjang sal in ’n oogwink aanbrand, so, as jy besluit om dit te maak, weet net een ding, jy gaan die pot oppas en roer deurentyd.
Soos ek gesê het gelukkig vir my, staan my man se hande vir niks verkeerd nie en hy het met alles gehelp, om nie eens te praat van my tweede geluk, dat sy Tante kom kuier het en ook gehelp het nie! Dit was skone pret en plesier om die vrugte te bewerk.

Mango Blatjang
Mango Blatjang

Hier is die resep:

Bestanddele:

1.5 kg Ryp mango’s, geskil en in blokkies gesny (weeg die blokkies)
3 Uie, fyngekap
600ml Bruin druiweasyn
450g Wit suiker
6cm Stuk vars gemmer, geskil en fyn gerasper
10 mℓ Mosterd poeier
5 mℓ Borrie
5 mℓ Sout

Metode:

Berei eers jou bottels voor en begin dan met die blatjang, aangesien dit baie goed opgepas moet word terwyl dit kook en jy nie kans sal kry om bottel voorbereiding te doen gedurende die kookproses nie.
Was die bottels met warm water (moet nie uitdroog nie) en plaas onderstebo in die oond. Sodra al jou bottels in die oond is, kan jy die oond aansit op 100 grade. (Jy kan dit later aanskakel byvoorbeeld net nadat al die suiker opgelos is in die blatjang – maar moet nie vergeet nie!) Plaas al die deksels van jou bottels in ’n pot en bedek met water. Sit op die stoof maar wag eers tot die blatjang halfpad gekook is voordat jy die plaat aanskakel.

Prut die mango’s en uie in die asyn vir ongeveer 15 minute, tot sag.
Voeg die res van die bestanddele by en roer oor lae hitte tot die suiker opgelos is.
Onthou om nou seker te maak dat die oond aan is met jou bottels (indien jy my inmaak metode gebruik).
Prut vir ongeveer ’n uur tot dik, roer dit gedurig om te verhoed dat dit aanbrand. Blatjang moet oor lae hitte, lank geprut word sodat die geure goed vermeng en die waterigheid verdamp.
Sodra die blatjang gereed is, skakel die plaat af en begin onmiddellik bottel.
Neem jou bottel uit die oond, sit jou tregter op en skep vol tot 1 cm vanaf die borand van die bottel, skroef die deksel op en plaas eenkant om koud te word.

Onthou om nie jou bottels te na aan mekaar te pak nie, aangesien die middelste bottels sal aanhou kook en die blatjang sal brand. Plaas bottels minstens 20 cm uitmekaar. Gedurende die afkoel proses, sal jy moontlik knal geluide hoor, dit is normaal, dit is maar net die klank wat die deksel maak sodra die bottel ’n vakuum getrek het. Sodra afgekoel, was bottels af en etiketteer.

Die blatjang sal in ’n maand gereed wees om te eet.

Leave a Reply

XHTML: You can use these tags: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>