Beetslaai

Dagsê Lesers!

Die laaste keer toe ek hierdie Beetslaai gemaak het, was ons op pad om te toer deur ’n gedeelte van Natal al agter geskiedkundige plekke aan, in die Boervolk se geskiedenis. Onder andere na die Monument ter herrinering van die Groot Moord van Bloukrans en Weenen) (Klik gerus hier om die artikel te lees)

Ons het die beet so in bottels ingepak en dit was altyd ’n lekker slaai wat ons net vinnig kon oopmaak en geniet. Dit is heerlik saam met vis, vleis en paste disse.

Hier is die resep:

Beetslaai
Beetslaai

Bestanddele:

1 ½ liter gaar beet, gerasper
2 tot 3 groot uie
500ml bruin asyn
300g wit suiker
15ml kerriepoeier
5ml sout
50ml mielieblom

Metode:

Berei eers die bottels voor omdat die slaai baie vinnig gereed is om te bottel. Klik hier vir meer inligting oor die inmaak proses.
Was eers jou bottels goed en spoel deeglik af (moet nie afdroog). Pak al jou bottels net so nat onderstebo in die oond. Skakel nou die oond aan op 100 grade. Sit die deksels in ’n pot met water op die stoof en bring tot kookpunt, draai dan die plaat af na laer hitte, sodat die deksels net aanhou prut.

Begin nou met die slaai.
Skil die uie en kap dit fyn op.
Verhit die asyn en suiker stadig tot kookpunt. Roer dit aan die begin totdat al die suiker opgelos is. Voeg die beet en uie by en laat dit 10 minute lank prut. Roer die kerriepoeier en sout by  en laat die mengsel 5 minute prut. Maak die mielieblom met bietjie water aan en roer dit by die beet mengsel. Laat dit goed deurkook.

Sodra dit gereed is, neem nou jou warm bottels uit die oond en skep jou slaai in die bottels met behulp van ’n tregter (sien artikel) sodat die rand van die bottels nie vol stroop word nie. Vul die bottel net tot so 3 cm van die borand af – neem nou ’n gewone smeer mes en druk al om die binnekant teen die rand van die bottel om al die lug borreltjies uit te kry. Vul nou op tot so 1 cm vanaf die borand en skroef die deksel op. Pak dit eenkant om af te koel maar pasop om die bottels te na aanmekaar te pak aangesien die middelste bottels sal aanhou kook en jou slaai kan dalk brand. Pak dit minstens 20 cm uitmekaar. Sodra die bottels afgekoel is, was af en plak ’n etiket op elke bottel met die naam van die inhoud sowel as die datum waarop dit gemaak is, sodat jy altyd die oudste eerste kan eet.

Geniet!

Leave a Reply

XHTML: You can use these tags: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>